Die Noord-Kaapse departement van onderwys het verlede week met ’n bestraffende kostebevel teen hulle bloedneus in die hooggeregshof in Kimberley gekry deurdat hulle beveel is om ’n onregmatige oorplasing van ’n skoolhoof van een skool na ’n ander ter syde te stel.
Dit kom ná die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en een van sy lede, Audrey Human, adjunkhoof van die Laerskool Petrusville, die hof genader het met ’n hersieningsaansoek teen Zolile Monakali, voormalige LUR van onderwys; Moira Marais, voormalige departementshoof; Senzo Mpalala, die betrokke skoolhoof; en die skoolbeheerliggaam (SBL).
Dit het gevolg nadat Mpalala as die hoof van die Hoërskool Steynville in Maart verlede jaar as skoolhoof na die Laerskool Petrusville oorgeplaas is waar Human die waarnemende hoof was ná die aftrede van die vorige hoof.
Die skoolhoofpos is nie ingevolge die wet op indiensneming van onderwysers en die personeeladministrasie-voorskrifte geadverteer nie, en daar was oortredings van die wet op die bevordering van administratiewe geregtigheid (Paja).
Mpalala het vooraf aansoek vir die pos gedoen omdat hy nader aan sy huis en familie wou wees, hy geglo het dit sou waarde tot die gemeenskap bydra, sy vrou swak gesondheid ondervind het, en dat dit te duur en tydrowend vir hom was om tussen Petrusville en Hopetown te reis. Sy aanstelling sou glo die skool stabiliseer.
Ter voorbereiding van die regsgeding het die departement aangevoer die LUR moes nie as ’n verweerder siteer wees nie, en dat dit ’n arbeidshofaangeleentheid is dat die departementshoof se besluit nie administratief ingevolge die Paja is, en nie onder die raamwerk van wetlike voorskrifte val nie.
Regter Mpho Mamosebo het hul besware verwerp deurdat die LUR uitvoerende verantwoordelikheid vir die departement dra, dit nie ’n arbeidsgeskil is nie omdat ander moontlike aansoekers en die SBL betrokke is, dat administratiewe mag gebruik is in die oorplasing, en dat die departementshoof wetlike beleide moet volg.
Marais kan nie aanvoer dat slegs die ontvangs van die SBL se aanbevelings aanvaarbaar is nie. Sy moenie net boksies gemerk het nie, sy moes die SBL se beswaar teen Mpalala se aanstelling deeglik oorweeg het. Die SBL het aanbeveel dat die pos adverteer moet word.
So ’n aanstelling sal die goedkeuring van die gemeenskap dra. Indien dit nie gedoen word nie, sou dit tot ontevredenheid in die gemeenskap lei. ’n SBL dra die belange van die skool en gemeenskap op die hart en hul aanbeveling dra gewig.
Die distriksdirekteur het egter die aanbeveling vir die oorplasing gedoen sonder die kringbestuurder van die skool en die SBL se goedkeuring.
Die regter het met die SAOU en Human saamgestem dat die departementshoof se besluit nie aan materiële en verpligte prosedures voldoen het nie. Die “humanitêre” oorplasing was onverdedigbaar en onregverdig jeens ander aansoekers.
Mpalala se redes vir sy oorplasing is irrelevant, en die arbitrêre oorplasing was met swak oordeel en op wispelturige wyse geneem. Boonop is dit ook teenstrydig met wetlike bepalings. Die departementshoof kan nie wetlike voorskrifte as “riglyne” of die SBL se aanbeveling as “advies” sien nie. Verpligte prosedures moet gevolg word.
Die regter vind Marais se verduideliking en interpretasies van sekere wetsartikels as ’n poging om onverdedigbare gedrag te verdedig. Marais se besluit voldoen nie aan wetlike vereistes nie; sy het relevante feite ignoreer maar irrelevante oorwegings bepeins.
Die regter het die oorplasing van Mpalala ter syde gestel. Die pos moet adverteer word en die departement moet sy eie en die aansoekers se regskoste betaal.
Regter Albert Nxumalo het met Mamosebo se besluit saamgestem.
Die departement van onderwys het op navraag gesê dat hulle eers die hofuitspraak bestudeer voor hulle kommentaar hieroor kan lewer.





