Ná jare se swak ouditmenings meen die sukkelende Noord-Kaapse departement van gesondheid hy is op pad na herstel.
Só het die topbestuurslede en die LUR verlede week in Kimberley gesê. Die stelling volg op Maruping Lekwene, LUR, se begrotingstoespraak, wat hy in Kakamas gelewer het.
Lekwene en Riaan Strydom, waarnemende departementshoof, het Vrydag (24/06) gesê die departement het geen ongemagtigde uitgawes in die 2020-’21-geldjaar aangegaan nie, vergeleke met die R234 miljoen in die vorige geldjaar. Agterstallige rekeninge het ook van R590 miljoen na R275 miljoen gedaal.
Volgens Lekwene het hulle begin om kritieke mediese poste te vul. Volgende week adverteer hulle 249 permanente poste vir ondersteuningspersoneel soos skoonmakers, droogskoonmakers, portiere, drywers, lykshuis-assistente en vakmanne.
Die departement gaan binnekort ‘n ooreenkoms met ‘n universiteit bekendmaak waarin verpleegpersoneel opgelei word om ná voltooiing van hul studie in die Noord-Kaap te werk. Die verpleeg-en-nooddienste-kollege en -koshuis sal in die vierde kwartaal teen ‘n koste van R160 miljoen voltooi wees.
“Volgende maand kwalifiseer sowat 99 aptekersassistente, wat die departement verder gaan oplei om medisynevoorraad te bestuur. Altesaam 32 beurse word vir ortodontiese en prostetiese studie beskikbaar gemaak.”
‘n Nuwe hospitaalraad en kliniekkomitees gaan ook aangestel word. Benoemings word ingewag.
Intussen moet ander probleme opgelos word. Volgens Strydom word ‘n tugproses “binnekort” gehou vir twee amptenare wat deur strafregtelike aanklagte in die gesig gestaar word. Die beskuldigdes is dr. Dion Theys, voormalige departementshoof, en Daniel Gaborone, voormalige finansiële hoof.
Theys is verlede Maart aangekla dat hy as verantwoordelike amptenaar nie die wetlike voorskrifte ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gevolg het toe huurkontrakte vir verblyf vir verpleegstudente van R96 miljoen in 2014 aangegaan is nie. In Augustus 2021 is hy in ‘n afsonderlike saak saam met Gaborone van bedrog en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla oor persoonlike beskermingstoerusting van R43 miljoen wat vir die Covid-19-pandemie aangekoop is.
Die geskorsde Theys en Gaborone verdien steeds salarisse, en die departement het reeds R1 miljoen vir hul regskoste opgedok. Volgens Strydom is dit egter kompleks omdat die Valke en die Spesiale Ondersoekeenheid betrokke is, en die departement van hul ondersoekwerk afhanklik is om die interne tugproses af te handel.
“Ons stel ook ondersoek in na die voorval waarin ons nooddienste uit ‘n gebou in Kuruman na die hospitaal getrek het en medisyne in die gevandaliseerde gebou agtergelaat is. Dit is ons medikasie, die reeksnommers bevestig dit,” sê Strydom. “Ons beoog om die gebou op te knap en in ? distrikskantoor te omskep.”
“Ons gaan die hospitaal met verdrag opknap. Dit is ‘n baie ou gebou en grootskaalse opknapping moet gedoen word, waarvoor daar nie nou geld is nie. Die grootste uitgawe is salarisse, sowat R1,2 miljard net vir dié hospitaal.”
Hy sê hulle moet ‘n distrikhospitaal in Kimberley bou om die druk van die RMSH af te haal. Die kraam- en pediatriese saal moet ook na ander geboue verskuif sodat die RMSH uiteindelik net spesialisdienste lewer.
Strydom en Lekwene is trots daarop dat die analoog-telefoonstelsels in hospitale, klinieke en kantore pas met ‘n digitale stelsel vervang is, wat baie koste gaan bespaar. Elektroniese pasiëntlêers is reeds in gebruik by klinieke wat digitaal gekoppel is.
Hulle wil in die volgende geldjaar 135 van die 159 klinieke en hospitale elektronies gekoppel hê.
Die departement het vanjaar nuwe klinieke oor die provinsie heen geopen en bou nog klinieke in ander afgeleë plekke.





