Asof die Noord-Kaapse departement van gesondheid nie genoeg probleme het met herhaalde swak ouditverslae, ’n pas afgelope Nehawu-staking en hoëvlak amptenare wat strafregtelik aangekla word nie, moet hy miljoene rande vir mediese nalatigheid uitbetaal.
Die hooggeregshof het vroeër vandeesmaand ’n skikking van R20 miljoen bekragtig om ’n gestremde kind te versorg.
In die betrokke geval is ’n seun serebraal verlam ná sy geboorte gelaat en mediese protokol is nie gevolg nie. Die departement het aanvanklik die eis teengestaan.
Sy ouers het aangevoer die personeel het in hul pligte gefaal deur nie die nodige prosedures en protokol te volg nie. Die ma is medikasie toegedoen wat die uterus te veel stimuleer het.
Deur nie die kind of die ma reg te moniteer nie, het dokters en verpleegpersoneel byvoorbeeld nie die kind se hartklop moniteer nie. Hulle het nie opgemerk dat hy in fetale nood verkeer nie, en daarmee die breinbesering wat hy opgedoen het. Dit was uit dié omstandighede duidelik dat ’n keisersnit eerder gedoen moes gewees het.
Weens die voorval het hy en sy gesin trauma, skok, sielkundige skade en ’n verlies van lewensgenot. Die seun benodig heeltydse versorging, terapie en behandeling. ’n Totaal van 15 deskundiges het getuig oor die nagevolge en sorg wat hy vir die res van sy lewe benodig.
Die deskundiges sluit in ’n argitek, fisioterapeut, bourekenaar, opvoedkundige sielkundige, bewegingskunde-deskundige, pediatriese ortopeed, dieetkundige, ortodontis en ’n kenner van prostese, bedryfsielkundige, aktuaris, rehabilitasie-deskundige, arbeidsterapeut, spraakterapeut, tandarts en ’n uroloog.
Die bedrag is vasgestel uit hoofde van die skade wat die kind en gesin ly. Dit sluit in ’n verlies aan inkomste en alternatiewelik verlies aan vermoë om geld te verdien, algemene skade vir pyn, lyding, ongerief, emosionele skok en die verlies aan lewensgenietinge, asook koste vir toekomstige mediese behandeling en versorging van die minderjarige.
Die gesin se huis moet aangepas word of ’n alternatiewe huis gebou word vir die spesiale behoeftes van die kind.
Volgens die getuienis is die seun ’n baie intelligente persoon wat die vermoë het om tot ’n nasionale tersiêre vlak-7 (NTS-7) skolastiese en tersiêre vlak te vorder.
Advv. W.P. de Waal SC en C.H. Botha het in opdrag van Hentie van Niekerk van Elliott Maris Prokureurs namens die minderjarige opgetree, en advv R. Williams SC en S. Mahomed in opdrag van Robert Charles namens die departement van gesondheid.





