Carli Oosthuizen, vanjaar Huisgenoot se Tiener van die Jaar, tree tydens die Laerskool De Aar se Buzzz-fees.

Foto: Verskaf

’n Naweek van vermaak en feesvieringe vind eersdaags by die Laerskool De Aar tydens sy Buzzz-fees plaas.

Leerlinge, ouers en die gemeenskap word genooi om van 3 tot 5 Oktober deel van dié verrigtinge te wees.

Die Buzzz-fees en eeufeesvieringe begin op Donderdag 3 Oktober met ’n dankdiens vir leerlinge en ouers, gevolg deur ’n boomplantseremonie, verjaarsdagpartytjie, die vorming van die eeufeeswapen op die sportterrein, en ’n eeufeesdans.

Vrydag gevul met aktiwiteite

Groot pret vind vanaf Vrydagoggend plaas met speletjies vir leerlinge waartydens hulle onder meer in bakkie-trek sal meeding, asook in verfbal en ’n kleurpretloop, met ’n kaskarwedren die hoogtepunt.

Die terrein open amptelik om 14:00, en ’n veld vol waterglybane en ’n uitdagende verfbalbaan is deel van die pret.

Vrydagaand verskaf Wouter van de Venter en sy Hippie Band musiek en vermaak. Ouers wat die geleentheid bywoon word uitgedaag om klere eie aan die hippiekultuur aan te trek.

Ouers kan ook ’n item saambring om in die tydkapsule te plaas. Dié tydkapsule gaan ná die naweek se verrigtinge toegebou word, om oor 50 jaar oopgemaak te word.

Bywoning van Vrydagaand se verrigtinge kos R150 per persoon, en sluit die musiekvertoning en ’n driegangmaaltyd in.

Reg deur die aand sal ’n snoepie en ’n kontantkroeg beskikbaar wees.

In dieselfde tydgleuf kan voorskoolse en laerskoolleerlinge, wie se ouers die eeufeesvieringe in die tent bywoon, ’n optrede in die skoolsaal deur Sonja Herholdt en Tjokker, gevolg deur ’n fliekaand, geniet. Toesig sal deur die personeel van die skool behartig word. Toegang kos R50 per kind.

Duiweveiling

Die jaarlikse Geneco Repo-duiweveiling in samewerking met die De Aar-posduifklub vind ook Vrydagaand plaas. Tydens dié veiling koop die bieër die “regte” van ’n duif om Saterdag namens die bieër te vlieg. Groot prysgeld is op die spel vir die bieër wie se duif eerste inklok. Die prysgeld word persentasiegewys volgens die veiling se totale inkomste bereken. In die verlede het ’n duif wat vir R3 000 opgeveil was, sy koper R50 000 in die sak gebring.

Slegs die 15 topduiwe van die klub word vir die veiling beskikbaar gestel.

Die tweede been van die veiling is waar elkeen ’n geleentheid kry om ’n duif vir slegs R100 te “koop” en die “eienaar” van die wenduif steek R5 000 in die sak. Dié wedvlug vind vanaf Williston na De Aar plaas.

Saterdag bied sport, vermaak

Verrigtinge op die dag begin om 08:00 met ’n Noord-Kaapse toutrektoernooi, asook ’n veerpyltjiekompetisie in die houtwerkklas.

Die Karel Kerling-skietkompetisie vind om 08:00 op die Hydra-skietbaan onder toesig van Karel Dumas en geregistreerde baanoffisiere plaas. Skuts wat dit wil bywoon, kan die skool vir inskryfvorms kontak.

Om 10:00 vind ’n geselligheid vir tieners vanaf gr. 6, en hul ouers, in die skoolsaal plaas. Die gasspreker is Carli Oosthuizen wat vanjaar as Huisgenoot se Tiener van die Jaar aangewys is. Toegang is R150 per persoon, en sluit toegang tot die feestent in.

Vir die hele Saterdag sal die waterglybane en die verfbalbaan beskikbaar wees.

Ses bekende kunstenaars tree van 15:00 tot ná 22:00 saam met plaaslike talent in die tent op. Van dié kunstenaars is GenT en Hannah E; Leandro de Carvalho; Anke van der Westhuizen; Piet Pompies; Samantha Leonard; Ruhan du Toit; Franja du Plessis en Prince Rajabu.

’n Kroeg, stalletjies wat eetgoed verkoop, asook ’n braaivleisstalletjie sal deurentyd hul produkte verkoop.

Dié Buzzz-naweek dien as ’n geldinsamelingsprojek vir die laerskool

Toegang vir Saterdag is R120 per volwassene, R80 vir laerskoolkinders, en voorskoolse kinders het gratis toegang.

Besoek Laerskool De Aar Primary op Facebook vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article