Riaan Sadie by die oorkonde wat hy op die wêreldkampioen­skaps­byeenkoms van die Wêreldfiksheidfederasie in Indonesië verower het.

Foto: Verskaf

Riaan Sadie (44), wat ’n paar jaar gelede “ ’n geweldige groot pens gehad” en “gesukkel het om skoenveters vas te maak” is nou ’n liggaamsbou-wêreldkampioen.

Dié pastoor van De Aar is verlede maand op die Wêreldfiksheidfedera­sie (WFF) se wêreldkampioen­skaps­byeenkoms in Lombok, Indonesië, as die wêreldkampioen in die ekstreem ope afdeling vir mans gekroon.

Sadie is ook die Suid-Afrikaanse kampioen in die afdeling vir mans ouer as 40 jaar. Hy en 14 Suid-Afrikaners het met meer as 130 atlete in die internasionale kompetisie megeding. Dit was sy eerste wêreldkampioenskap.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring waarvoor ek ’n paar jaar voorberei het. Aanvanklik wou ek onder die top vyf, later die top drie, eindig – maar ek wou eintlik graag wen. Hopelik is dit nie my laaste wêreldkampioenskaptitel nie. Boonop moet ek my titel volgende keer verdedig,” sê hy.

“Ek het jare gelede besluit ek wil nie vet en onfiks oud word nie. Ek was oorgewig en ongesond. Toe begin ek hard oefen en ’n gesonde leefstyl volg. Liggaamsbou behels dat ek daagliks vir een-en-’n-halfuur oefen en ’n spesiale dieet volg. Ek eet ses keer per dag om die liggaam se metabolisme aan te wakker en anabolies te hou sodat die liggaam nie spierweefsel verteer wanneer dit energie benodig nie.”

Liggaamsbou gaan 80% oor die dieet wat die atleet volg, en 20% se intense oefening, meestal met gewigte en kardiovaskulêre oefening.

“Ek is vanjaar as die Vrystaat-kampioen in die meesters bo-40- en ope-afdeling gekroon en later as die Suid-Afrikaanse kampioen in die meesters bo-40-afdeling. Ek was tweede in die ope afdeling waarin al die ouderdomsgroepe meeding.

“Daar is nie ’n bo-40-afdeling in die wêreldkampioenskap nie, net bo-50 en bo-60 waarin atlete volgens lengte en gewig deelneem.”

Almal hoef nie bultende spiere te hê nie. In die sportmodel-kompetisie ding vroue met ’n sagte, natuurlike voorkoms in bikini’s mee. Die sportvoorkoms is gefokus op mooi proporsies met dun middellywe. Mans kan ook in jeans deelneem. Die ander afdelings behels kleredrag soos volswembroeke, sjoebroeke of aandrokke. Daar is ook afdelings vir sterker vroue met goeie spiertonus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article