Terwyl sommige politieke partye Woensdag 11 Oktober ’n wakende oog oor die verkiesingslokale in wyk 1 in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley gehou het, het die DA ’n straatblok verder ’n vreedsame protes gehou met plakkate wat sê: “Steel ’n kandidaat, steel ’n verkiesing”.
Die DA kon nie aan die tussenverkiesing in Roodepan en Platfontein deelneem nie omdat sy kandidaat ná die spertyd vir kandidate om te registreer onverwags na die Patriotic Alliance (PA) oorgeloop het. Dié tussenverkiesing volg op die bedanking van die ANC-raadslid wat maande ná die tussenverkiesing in Februarie in dieselfde wyk ook na die PA oorgeloop het.
Benewens die PA en ANC was daar ook kandidate van die EFF, African Christian Democratic Party (ACDP), Build One SA (Bosa) en ’n onafhanklike kandidaat Stoffel Martins wat aan die tussenverkiesing deelgeneem het.
Die ANC het net een setel meerderheid in die raad en maak staat op twee proporsionele verteenwoordiger (PR)-raadslede om hom in die raad te steun.
Michael Kaars, DA-veldtogleier wat die protesaksie in Roodepan en Platfontein gelei het, sê hulle wil hul stem dik maak.
“Ons DA-lojale lede is hier om die party se naam hoog te hou. Ons wil nie hê dat ons ondersteuners vir ander partye stem nie. Ons is immer die opposisieparty. Ons staan vir regverdige deursigtige geleenthede vir almal.
“Ons gewese kandidaat, Jocelyn Hart, was vir jare ’n lojale DA-lid. Sy het sedert 2016 elke keer aansoek gedoen om as kandidaat aangewys te word. Hart wou met die vorige tussenverkiesing vreeslik graag ons kandidaat wees, en was erg teleurgestel toe sy nie was nie. Sy was so lojaal dat ons nie die oorlopery verwag het nie. Haar klagtes is nooit voorheen geopper nie.”
Sy het deur al die prosesse gegaan om ’n wykskandidaat te word, sê Kaars.
“As sy regtig so ongelukkig was oor die behandeling by die DA, kon sy lankal bedank het. Hoekom wag sy totdat die kandidaat-spertyd verby is voordat sy bedank? Dit is duidelik dat daar gemene spel betrokke was.”
Hy sê hulle sou meer as 1 450 kiesers gehad wat vir hulle sou stem.
“Ons gun nie die gedurige tussenverkiesings vir die inwoners nie. Hulle benodig dringend beter dienslewering vir almal. Roodepan is ’n vergete wyk. Ek dink werklik nie dinge gaan verbeter nie, wie ook al die verkiesing wen nie. Die ANC-beheerde munisipaliteit lewer ieder geval nooit dienste in DA-wyke nie.”
Kaars sê die nasionale partyleiers is besig met strategieë om die sogenaamde “Pollsmoor-taktieke” van die PA teen te werk.
“Die taktiek sal weer in volgende tussenverkiesings en volgende jaar se nasionale en provinsiale verkiesing plaasvind. Ons leiers is besig om planne te beraam sodat dit nie weer so maklik gebeur nie. Maar jy kan nie sommer knoeiery uit iemand kry nie.”




