Pres. Cyril Ramaphosa tydens sy besoek aan Martha Louw in haar nuutgeboude HOP-huis in Galeshewe, Kimberley.

Foto: Charné Kemp

Pres. Cyril Ramaphosa help Martha Louw om haar verjaardagkoek, met vergunning van die ANC, te sny.
NoordkaapBulletin Foto: Charné Kemp

Pres. Cyril Ramaphosa probeer vir Martha Louw ‘n bietjie verjaardagkoek voer.
NoordkaapBulletin Foto: Charné Kemp

Net soos pres. Cyril Ramaphosa Saterda soet verjaardagkoek vir ouma Martha Louw wou voer, het hy inwoners en ANC-lede in Kimberley probeer oortuig dat die ANC ‘n nuwe blaadjie omslaan om weer kiesers te vertroue te wen.

Sy besoek as nasionale voorsitter van die ANC waarin hy die Letsema-veldtog bekendgestel het, is aan die vooraand van die ANC se 55ste nasionale kongres in Desember wanneer nuwe leiers gekies word.

Die Letsema-veldtog, wat saamwerk beteken, se oogmerk is om ANC-taklede te inspireer om met harde werk en integriteit die party weer geliefd te maak.

“Die volgende nasionale en provinsiale verkiesing is in 2024. Ons het 46% steun in verlede jaar se munisipale verkiesing behaal, ’n swak vertoning. Kiesers het vertroue in die party verloor,” het hy gesê.

Ramaphosa wat ‘n jaar gelede hier steun vir die munisipale verkiesing gewerf het, is toe deur ouma Louw van Donkerhoek, Galeshewe, voorgekeer. Sy en haar familie het hul lot bekla dat sy al 20 jaar vir ’n huis wag, waarna hy belowe het sy sal ’n huis kry.

Die afgelope Saterdag, op haar 82ste verjaardag, het hy haar splinternuwe huis besoek en ’n stuk van die verjaardagkoek wat in ANC-kleure getooi was, vir haar gevoer. Terwyl hy aan die teenwoordiges gesê het die regering het Louw se waardigheid herstel, het sy ongesteurd self haar koek geëet.

Louw se bure het die gebeure van hul stoepe dopgehou. Victor Cindi (71) sê 90% van Galeshewe se mense vertrou nie meer die ANC nie.

“Ons sien die premier nooit in ons strate nie. Ons weet nie wie die burgemeester is nie. Diegene wat dienste moes lewer, het net gespeel. Nou sit ons somtyds drie dae sonder water. Ons het beurtkrag. Die probleme kom al meer as 20 jaar. Waar gaan die geld vir regeringsprojekte heen? Ons wil sien dat die korruptes wie se name by die Zondo-kommissie genoem is, voor die hof verskyn. Dan sal ons sê die regering is regverdig. Jy kan mos nie miljoene steel en niks oorkom nie.”
Victor Cindi

Later die dag het Ramaphosa erken die regering het foute gemaak en dat Eskom se probleme ‘n groot kopseer is. Hy het verskoning gevra dat die Kusile- en Medupi-kragstasies ná miljarde rande wat reeds bestee en nog bestee moet word, nog nie in werking is nie. Die nuwe Eskom-raad sal volgens hom ‘n ondersoek doen om die probleme uit te stryk.

“Ander uitdagings soos korrupsie en staatskaping het kiesers se geesdrif verflou. Die regering word herposisioneer binne begrotingsbeperkings om goeie dienste te lewer. Groot infrastruktuurprojekte soos die herstel van slaggate word gedoen. Die Zondo-kommissie se aanbevelings word toegepas.”

Pres. Cyril Ramaphosa het die Noord-Kaap se bydrae tot hernubare energie deur wind- en sonkragaanlegte en die beplande waterstofaanleg by Boegoebaai wat moontlik 6 000 werksgeleenthede kan verskaf, uitgesonder.

“Alternatiewe kragbronne het beleggings van R70 miljard vir die provinsie meegebring. Die provinsie verskaf reeds 65% van die land se hernubare energie, en drie nuwe kontrakte met onafhanklike kragverskaffers is onlangs geteken.”

Hy sê mense moenie mismoedig wees nie.

“Ons het reeds baie vir ‘n beter toekoms gedoen ná ‘n baie donker verlede wat vloede, onluste, werkloosheid, beurtkrag, die ekonomiese nagevolge van die Covid-19-pandemie en korrupsie insluit.”

Die Letsema-veldtog moet ANC-takke dryf om aktief te wees en leiers binne gemeenskappe te word.

“Takke moet hulself opskerp en die burgers dien. Ons moet saam met gemeenskappe buurte skoonmaak, aan gemeenskapspolisiëringforums behoort om misdaad te help bekamp en op skoolbeheerliggame dien.

“Die ANC moet weer in voeling kom en ter wille van sy gemeenskap en swak dienslewering en korrupsie uitroei. Ons moet teruggaan na ons tradisionele beginsels van integriteit en etiese waardes. As ANC-takke sterk is, is die regering effektief. Ons kan nie bekostig om hoop te verloor nie.”

Hy het gewaarsku dat “boewe, diewe en tronkvoëls” beheer van die party wil neem. “Ons benodig toegewyde kaders wat die kwesbare armes met nederigheid en uitnemendheid dien.”

Pres. Cyril Ramaphosa voer Martha Louw ‘n bietjie verjaardagkoek.
NoordkaapBulletin Foto: Charné Kemp

Victor Cindi sê die meerderheid mense in Galeshewe vertrou nie meer die ANC nie.

‘n Paar ANC-ondersteuners poseer saam met pres. Cyril Ramaphosa in Donkerhoek, Galeshewe.
NoordkaapBulletin Foto: Charné Kemp

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article