Corné Vermeulen in die hooggeregshof.

Foto: Charné Kemp

Die ma van die veroordeelde Corné Vermeulen, wat sy pa se meisie op ’n plaas buite Prieska doodgeskiet het, het verlede week in die hooggeregshof in ’n voorvonnisverhoor huilend getuig haar seun is deur sy pa “mishandel en as ’n soldaat grootgemaak”.

Vermeulen is in Maart vanjaar aan die moord op Serifa Brown skuldig bevind. Brown is op 21 Mei 2016 op die plaas Jonkerwater buite Prieska doodgeskiet.

Corné Vermeulen in die hooggeregshof.

Regter Lawrence Lever het bevind Vermeulen het nie kort voor die voorval aan posttraumatiese stresversteuring (PTSV) gely nie en het sy deskundige getuienis verwerp.

Die enigste twispunt tussen die staat en die verdediging was of Vermeulen ten tyde van die gebeure die verkeerdheid van sy dade besef het. Die staat het aangevoer hy was toerekeningsvatbaar, terwyl hy sy PTSV die skuld gegee het.

Hester Vermeulen, sy ma, het op 1 Augustus ter strafversagting beweer dat Albertus Vermeulen, haar man en pa van Corné, hulle gereeld aangerand het.

“Ek het my seun versaak, en voel vreeslik skuldig,” het sy getuig.

Volgens Hester het Albertus haar die plaas verbied toe Corné agt jaar oud was. Albertus het hom skool toe en terug gebring. Sy het op die dorp gebly en kon haar seun net ure lank sien wanneer Albertus hom by haar gelaat het wanneer hy sake moes doen.

“Albertus het my op die plaas gereeld met die vuis en ’n swart sambok geslaan. Ek is mishandel, soos hy met Corné ook gedoen het. Albertus was in die bosoorlog betrokke en het altyd vuurwapens op die plaas gehad. Hy het sy kinders as soldate grootgemaak, Corné ook. As Corné nie sy opdragte gevolg het nie, het sy pa hom met die vuis en die sambok geslaan.”
Hester Vermeulen

Foto’s is aan die hof getoon waar die driejarige Corné met ’n vuurwapen in die hand staan. Hy het ’n ammunisiebelt om sy nek. In die agtergrond is nog vuurwapens en ammunisie sigbaar. Albertus het glo ook ander toerusting aangehou wat hy van die bosoorlog in Angola gebring het.

Vermeulen het vroeër getuig hy en drie werkers was daardie Saterdag bedrywig op die plaas voordat hulle teen sononder na hul huise teruggekeer het. Sy pa was uitstedig. Hy en Brown was in ’n woordewisseling betrokke omdat sy nie kos gemaak het nie. Sy het geld na hom gegooi en ’n aanmerking oor sy ma gemaak. Hy het haar met sy arm van agter gewurg. Hulle het eers op die bed beland, en sy het hard met haar kop op die grond geval. Hy het haar geskud en haar naam geroep.

Omdat hy gedink het sy is dood, het hy ’n sak gaan haal om oor haar kop te sit sodat die bloed nie die vloer bevlek nie.

Hy het ’n kombers gaan haal om haar in te begrawe, maar toe ’n geluid gehoor. Sy was regop en het voor hom uitgevlug. Hy het die .22-geweer uit die bakkie gehaal en skote op haar geskiet.

“Ek het geskiet, en geskiet,” het hy getuig. Sy het geval, waarna hy na haar kop geskiet het.

Toe hy by haar kom, het hy die loop teen haar kop gesit en weer geskiet. Hy het toe op die honde begin skiet. Een van die honde is teen die bakkie verbrysel. Volgens hom het hy nie geweet wat hy gedink het of die verkeerdheid van sy dade besef nie.

Die betoë ter strafverswaring en strafversagting is tot 10 Oktober uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article