Die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) sê hy gaan munisipale bestuurders wat nie die vereiste ervaring en opleiding het nie, se aanstellings ongeldig verklaar.
Dit is een van die stappe wat gedoen word om die provinsie se sukkelende munisipaliteite reg te ruk.
Bentley Vass, LUR, sê hy gaan ook nie meer toelaat dat munisipaliteite konsultante teen R126 miljoen aanstel soos in die afgelope boekjaar om finansiële state vir ouditmenings op te stel nie.
“Dit kos net geld en die administrasie is veronderstel om oor die vaardighede te beskik.”
Luidens die verslag van die ouditeur-generaal (OG) het die nie-nakoming van wetgewing algemeen by 86% van munisipaliteite voorgekom. Die hoofoorsaak was die oortredings van verkrygingsvereistes, wat die grootste bydrae tot die onreëlmatige uitgawes van R1,11 miljard was.
Dit is nie die volle bedrag nie, want by 17 munisipaliteite is die omvang van onreëlmatige uitgawes nog onbekend.
Joe Morolong, !Kheis en Renosterberg is die munisipaliteite wat aanhoudend swak ouditmening kry en weinig verbetering toon.
Vass sê die Operasie Skoon Oudit-veldtog is steeds geldig, al het dit in die tien jaar sedert dit bekendgestel is, nie die gewenste resultate opgelewer nie.
Net die Hantam plaaslike- en Frances Baard-, Namakwa- en ZF Mgcawu-distriksmunispaliteite het skoon ouditverslae vir die 2021’-22-geldjaar ontvang. Ses munisipaliteite het ongekwalifiseerde verslae met bevindings, 15 het gekwalifiseerde verslae met bevindings, vier het afwysende verslae ontvang en twee se ouditmenings is uitstaande omdat finansiële state laat ontvang is.
“Ons plaas druk op munisipaliteite om veral kritieke vakante poste te vul. Advertensies moet landwyd geplaas word om applikante te lok.
Volgens hom is daar verbetering in administrasie en beter dienslewering by die sukkelende Thembelihle- en Renosterberg-munisipaliteit waarheen amptenare van sy departement sekondeer is.
Intussen wil Vass ook kontrakteurs vasvat wat swak gehaltewerk en huise as deel van die behuisingsprojek lewer. Hy gaan kontrakteurs wat swak werk lewer, op ’n swartlys plaas.
“Mense wat nog nie huise ontvang het nie, moet asseblief geduldig wees.”
Nog mense wat geduldig moet wees, is die inwoners van die Magareng-munisipaliteit waar inwoners al maande sonder watertoevoer moet klaarkom.
“Ons wag dat die riviervlak en waterdruk daal sodat pype herstel kan word. Ons het sewe vragmotors wat water versprei. Sowat R5,5 miljoen is aan die munisipaliteit beskikbaar gemaak om die probleme op te los.”
Hy is vol vertroue dat gekwalifiseerde amptenare binnekort in die poste van finansiële hoof en direkteur van infrastruktuur by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley aangestel word.
“Ons werk saam met die departement van water en sanitasie om toelaes aan sekere munisipaliteite te gee om hul rioolaanlegte op te knap.
“Menselewens is op die spel, en die omgewing word besoedel indien die rioolaanlegte nie in werking is nie.”



