Wim van Bergen, die onafhanklike kandidaat wat deur die Bongani-gemeenskap in die vorige plaaslike verkiesing benoem en teen alle verwagtinge tot die burgemeester van die Siyancuma-munisipaliteit in Douglas verkies is, beskou sy verkiesing as ’n ingryping van bo.
Hy en sy bestuurspan het reeds die munisipaliteit se omkeerstrategie begin verwesenlik. Dit is deel van die dorpsraad se plan om die beroerde finansiële sake uit die vorige administrasie om te keer.
Van Bergen (71) is ’n suksesvolle sakeman en boer, en oudpredikant.
Hy sê hy wil sy kennis en ervaring ter wille van die gemeenskap inspan.
Sy oogmerk is om met behulp van ’n sterk bestuurspan en die burgemeesterskomitee die dorp se diensleweringsprobleme op te los.
“Ons het reeds soveel vermag,” sê hy.
“Die beskikbare geld is egter net te min om alles wat reggemaak moet word dadelik te doen. Een van die begraafplase wat deur suidwesdoringbome oorgroei is, moet byvoorbeeld skoongemaak en slaggate herstel word.”
Farriet Manuel, nuwe munisipale bestuurder, het vier maande gelede begin werk.
“Hy het jare se ervaring as ’n finansiële hoof en was die beste kandidaat uit 19 aansoekers. Indien hy ses maande vroeër begin het, het ons al verder gevorder.”
Die burgemeesterskomiteelede, hoewel van verskillende politieke partye, werk goed saam.
“Dit werk, want liefde en vergifnis oorwin alles. Ek is hier om mense te dien en jaag nie ’n partypolitieke beleid of aansien na nie.”
Van Bergen se verhouding met die departement van samewerkende regering is ook goed.
“Die finansiële sagteware wat ons ingevolge regulasies moet gebruik is ontoereikend. Ons wil dit met behulp van die provinsiale staande portefeuljekomitee verander.”
Een ding wat hy hom voorgeneem het, is dat die munisipaliteit nooit weer geld uit ongebruikte munisipale-infrastruktuurtoelae (MIC) na die tesourie mag terugstuur nie.
Die watersuiweringsaanleg is skoongemaak en slik verwyder. Die water word vinniger en meer effektief gesuiwer. Die kapasiteit van watersuiwering moet verdubbel omdat die vraag geweldig groei.
Die munisipaliteit stort ook nie meer riool in die rivier of elders nie.
Die pad van Douglas na die Bongani-woonbuurt is geplavei.
’n Omvattende plan wat hy met boere bespreek, is om krag op te wek waarin surplus-elektrisiteit aan die munisipaliteit verskaf word. As hy sy sin kry, sal elke arm huishouding ook sy eie sonpaneel kry.
Hy is tevrede dat hulle Eskom se beurtkragskedule tot ’n groot mate die hoof kan bied met kragopwekkers, al kos die brandstof baie geld.
“Ons kon voorheen tydens beurtkrag nie inwoners se rekeninge verreken om geld te in nie. Die munisipale kantore was saam met die gemeenskap in donkerte gehul.
“Reeds gesuiwerde water het ook in die vleiland gevloei.”
Die beurtkrag-probleem is grootliks opgelos toe hy vyf onbenutte en bykans nuwe kragopwekkers in Schmidtsdrift ontdek het. Dit is nie baie gebruik nie omdat die water in die plaaslike opgaartenk ’n week lank hou en water nie gereeld gepomp moet word nie.
“Die oortollige kragopwekkers word in Douglas gebruik. ’n Ander een in Griekwastad is ook opgeknap en word in die dorp gebruik om water vir plaaslike gebruik te pomp.
“Verteenwoordigers van nuwe ysterertsmyne en sonkragaanlegte in die munisipale distrik sit saam met ons, skoolhoofde en kliniekbestuurders as ’n forum.
“Almal besluit saam hoe die geld in die gemeenskap bestee moet word.
“Waterpompe in Griekwastad is ook herstel of verander om die watertoevoer te verbeter, maar ek wil nog die fout opspoor wat die opgaartenk te vinnig laat leegloop.”
Toe die Vergete Grootpad-ekspedisie in November in Griekwastad geëindig het, het Van Bergen sy vragmotor en twee laaigrawe gestuur om die vullis op hope te stoot. ’n Plaaslike myn sal binnekort help om dit te verwyder.





