Hannes Noëth en Karin Muller, “bladsy-bure” op bl. 4 van NoordkaapBulletin.

Foto: Helena Barnard

Sy eie boekery van ongeveer 11 000 boeke laat Hannes Noëth daagliks die waarde van die geskrewe woord in gedrukte vorm besef, beleef en waardeer.

Dit was deel van die rede waarom Noëth, skrywer van die weeklikse Twyfelhoekie-rubriek in NoordkaapBulletin, besluit het om ’n bundel met 365 van dié rubrieke saam te stel.

Noëth skryf sedert Mei 2011 dié Twyfelhoekies vir die publikasie, en die afgelope 13 jaar is meer as 600 gepubliseer.

Met Kimberley as die “geboorteplek” van die Twyfelhoekies is dié bundel heel gepas op Vrydag 1 November ook in dié stad, by die Stillerweë-aftreeoord, bekendgestel.

Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand en woonagtig in Pretoria, was in 2011 predikant by die Gereformeerde kerk Kimberley toe hy en die destydse redakteur van die publikasie, toe nog Noordkaap, oor die moontlikheid van ’n rubriek gepraat het.

Ná meer as 13 jaar het die gewildheid van die rubriek nie afgeneem nie, en ook nie Noëth se deursettingsvermoë en dissipline om klokslag en weekliks so ’n rubriek boonop sonder betaling – te lewer nie.

bundel

‘n Totaal van 365 Twyfelhoekies saamgebundel.

Vanaf die eerste Twyfelhoekie wou Noëth lewenswysheid met diepte deel, wat terselfdertyd nie te swaar moes wees nie.

“Hoe mooi dat die Here vir ons stories in ons daaglikse lewe gee,” sê hy.

Hy skryf oor dit wat hy waarneem en beleef in die wêreld waarin hy geplaas is, met nie ’n dag wat verbygaan sonder dat hy die plaas Twyfelhoek tussen Petrusburg en Koffiefontein onthou nie.

“Die plaas Twyfelhoek het my sekuriteit in ’n onseker wêreld gegee,” sê hy,

Twee temas veral sentraal in mense se lewe

Noëth was in sy sesde jaar van tersiêre opleiding toe hy besef dat soveel dinge daagliks om ’n mens gebeur waaroor jy nooit dieper dink nie. Hy het besef dat soveel mense op ’n dag by jou verbygaan oor wie se menswees of omstandighede jy nie dink nie. Hy het ook vertel van ’n verjaardagkaartjie wat hy daardie jaar vir ’n 91-jarige tannie gegee het. Daarin het gedruk gestaan: “Geseënde jaar”.

Oor dié boodskap het hy vir homself gevra wat hý eintlik vir die bejaarde wil sê, en wat die beste woorde sou wees.

Deur sy daaglikse kom en gaan met mense oor die land heen het hy ná jare se rubriekskryf besef dat veral twee temas sentraal staan: Die soeke van die mens na vrede in alle tye; en die besef dat jy seëninge ontvang – in alle omstandighede.

“Moenie net oorleef nie. Moenie leef uitstel totdat jy gereed is daarvoor nie,” sê hy.

Die boekbekendstelling is ook deur Karin Muller bygewoon. Sy noem Noëth haar “bladsy-buurman” omdat sy reeds die afgelope tien jaar die Potpourri-rubriek skryf wat ook op bl. 4 geplaas word.

  • Vir meer inligting oor die bundel met 365 Twyfelhoekies, besoek twyfelhoek.co.za.

Hannes Noëth en Karin Muller

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article