Die valke het Dinsdagoggend ’n 65-jarige voormalige departementshoof van paaie en openbare werke, asook ’n sakeman (59) in hegtenis geneem weens bedrog van R240 miljoen by die Noord-Kaapse psigiatriese hospitaal.
Die boukoste het oor tien jaar byna R2 miljard beloop.
Opposisiepartye het oor die jare heen optrede geëis.
Nomthandazo Mnisi, Valke woordvoerder, sê die twee word van bedrog, korrupsie geldwassery en oortredings van die wet op openbare finansies aangekla.
Nog inhegtenisnemings word glo verwag.
Die bewering is dat die betrokke departement tesame met die departement van gesondheid in 2003 die kontrak van R290 miljoen aangegaan het om die hospitaal te bou.
“Na bewering moes geboue na die konstruksie gesloop word, en nog R420 miljoen is betaal sonder dat enige werk gedoen is. Die kontrakteur was bankrot. Die kontrakteur was nie bevoeg om die dienste te lewer nie, maar is steeds betaal. Geen wetlike aankoopvereistes is gevolg nie.
“Die werk is sedertdien gestaak en die gebouekompleks is steeds onvoltooi en onbruikbaar, terwyl dit steeds geld kos om te onderhou.”
Sy sê die bewerings kom neer op wanadministrasie en wanbestuur.
Genl. maj. Stephen Mabuela, provinsiale Valke-hoof, het sy lede met hul goeie werk gelukgewens.
Meer inligting volg.


