Vrywilligers van die Minerva-breigroep is van links, voor: Mary Petrus, Lettie Sciocatti, Elma Loots, Thea Bosman, Anny Möller en Joey Esterhuizen

Brei is ’n skeppende handvaardigheid, is terapeuties van aard en bied ’n geleentheid om tyd nuttig te gebruik om kledingstukke vir behoeftige mense te skep.

Die Minerva-breigroep by die Minerva Gardens-aftreeoord in Kimberley bestaan al jare. Die lede kom elke Donderdag in die saal bymekaar en gebruik hul eie wol of wolskenkings om kledingstukke soos musse, serpe en slaapsokkies vir behoeftige mense of diegene met gestremdhede, en selfs piepklein jurke vir vroeggebore babas, te brei.

“Ons skerts, lag en huil saam,” vertel Ina Wilmans, sameroeper. Sy het die groep by Noekie van der Westhuizen oorgeneem, wat dit jare lank gelei het. Die groep bestaan uit 15 vrywilligers, waarvan tot tien op ’n slag vergader. Die ander lede brei tuis.

“Ons trek ook ou gebreide kledingstukke uitmekaar en brei dit oor. Die groep skenk kledingstukke vir onder meer KANSA, die Reach for Recovery-borskankerprojek, die Ons Huis-ouetehuis in Beaconsfield en Caritas-gemeenskapfokus. Ons gee ook artikels aan die vereniging van demensie en Alzheimer se siekte van Suid-Afrika (Adasa), wat dit vir inwoners van tehuise soos Belgrave Lodge en Stillerweë gee. Daar word kniekomberse en vroetelkouse uitgedeel.”

Ina Wilmans, sameroeper van die Minerva-breigroep, by ’n week se breiwerk.

Verlede jaar het hulle klere vir inwoners van die Sally Aucamp-huis en die Seochoareng-ouetehuis in Galeshewe gegee.

“Ons doen dit vir die liefde vir die saak en wil besig bly; boonop is daar ’n groot behoefte in die gemeenskap.”

Wilmans raak aangedaan wanneer sy vertel hoe dankbaar die ontvangers is.

“Die inwoners van Ons Huis het ’n briefie geskryf en by ons sekuriteitshek afgelewer.”

Elma Loots sê brei is ontspannend: “My hande is nooit stil nie. Ek het verlede jaar op pensioen gegaan en hoor toe van dié groep.”

Kotie Venter sê die samesyn is wonderlik, en dit is bevredigend om vir ander te kan gee.

“As jy na die hoop klere kyk wat net ’n week se werk is, voel ’n mens so tevrede.”

Terwyl hulle saam brei, gee hulle raad en daad. Introverte pas in, want hulle hoef nie te gesels nie, maar is deel van ’n omgeegroep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article