Die brandseisoen in die Noord-Kaap heers steeds weens warm en winderige toestande wat weerlig meebring en bevorderlik vir wegholveldbrande is.
Dit is daarom belangrik om meer te doen om brandbeskermingsverenigings (BBVs) op distriks- en provinsiale vlak te koördineer om brande meer effektief te beveg.
Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het Maandag (17/10) gesê die meeste brande is onder beheer. Die grootste oorsaak is weerlig.
“Die ergste verlies is aan weiding en infrastruktuur, en nie soseer aan wild en vee nie. Die provinsie het teen die Namibiese grens en in die Kalahari sowat 15 mm reën gehad. Totdat reën wyd en deurdringend uitgesak het en die veld groen uitloop, is droë veld steeds kwesbaar vir wegholveldbrande.”
Dierevoeding en alternatiewe weiding is ’n dringende behoefte.
“Geskenkte veevoerbale is na Kuruman gestuur. Agri Noord-Kaap kyk hoe veevoer van Upington na Mier gebring kan word om boere by te staan. Ons het met behulp van skenkers blasers aan die Mier-gemeenskap beskikbaar gemaak om brande te bestry. Die toerusting kan help om brande meer effektief te bestry, want daar is nie baie voertuie beskikbaar nie.”
Die skade aan infrastruktuur is kommerwekkend.
Eben Anthonissen, voorsitter van Agri Noord-Kaap se omgewingsake-portefeulje, sê met beter koördinasie kan BBVs meer effektief saamwerk en daadwerklik optree om brande te bestry.
“Die brandopleidingsessies wat met behulp van die Vrystaatse sambreel-brandbeskermingsvereniging aangebied is, het beslis gehelp. Die Noord-Kaapse BBVs moet beter koördineer en kommunikeer. Ons doen reeds stappe om dit te verbeter.
“Een daarvan is om in samewerking met die provinsiale departement van landbou, en die nasionale departemente van omgewingsake, bosbou en visserye, asook die samewerkende regering, die BBVs in provinsiale distrikte te koördineer.
“Bestaande BBVs moet daarby aansluit, terwyl ander mense direkte lede kan word. Ons wag vir die departement van omgewingsake, bosbou en visserye se mandaat en dat hulle die distrikte se BBVs op nasionale vlak goedkeur. Dit sal help dat die provinsiale struktuur beter funksioneer. Opleiding, bewusmaking en toegang tot toerusting en persoonlike beskermingstoerusting (PPE) sal vergemaklik word.”
“Ons werk nou met die National African Farmers Union (Nafu) om ontluikende boere by opleiding te betrek. Tydens die onlangse brande het boere en lede van die private sektor ingespring om brande te beveg. Sommige boere weet egter nie hoe om brande te benader of wat die gevare is nie.”
Die opleidingsessies is deur skenkings aan die Agri Noord-Kaap-stigting befonds.
“Die opleiding is oop vir enigeen, nie net Agri Noord-Kaap-lede nie. Hoe meer mense, boere, dorpenaars of vrywilligers by BBVs betrokke is, hoe beter,” sê hy.


