Trevor Datnow, eienaar van Marrick Safari buite Kimberley, sê die jongste brand wat verlede Vrydag die grootste gedeelte van sy wildplaas en sommige geboue beskadig het, sal hom nie onderkry nie.
Dit was die grootste brand wat hy in sy meer as 30 jaar op die plaas ervaar het omdat van sy geboue en toeristeverblyf beskadig is.
“Ons moet maar net weer aangaan en alles herstel,” sê hy.
Marrick Safari is bekend as ’n jagplaas en toeristebestemming, ook vir diegene wat nagdierlewe bekyk. Hy het ook ’n pan op die plaas waar meer as 450 grootflaminke ’n maand gelede neergesak het om aan skaaldiere en ander waterorganismes te vreet.
“Die brand het wes van my op ander plase begin en is deur die tierende wind tot oor die N8 aangedryf. Aanvanklik het ek gedink ons is veilig, maar die wind was te erg. Die vlamme het selfs aan die ander kant van my plaas oor die R357 gespring.
“Ek het al brande op my plaas vanjaar gehad. Ek het gemeen die afgebrande dele sal natuurlike brandpaaie vorm. Gelukkig het die wild ten tyde van die brand op die afgebrande gedeeltes geskuil. Ek het nie wildverliese nie, maar klein diertjies soos knaagdiere en skilpaaie is dood.
“Gelukkig het daar kort ná die brand reën uitgesak wat al die smeulende stompe geblus het.”
Die omgewing se boere het mekaar gehelp om die brand te blus en om onderling voer vir die wild te verskaf. Datnow moet egter bykomende bale voer koop.
“Die versekering sal die skade aan die geboue dek, maar ek moet self heinings, pype, plastiekwatertenks en ander infrastruktuur vervang.”
Datnow sê dekades gelede het groot brande net elke twee jaar of meer uitgebreek.
“Nou breek dit weekliks uit. Daar is gerugte van brandstigting, maar niemand ondersoek dit deeglik en met ywer nie. Dit moet ondersoek en die skuldiges aangekeer word.”
Intussen glo hy dit sal binnekort weer reën dat die veld kan begin groei.




