Een van die na bewering 18 weermagvoertuie wat uitgebrand het.

Foto: Facebook/Lohatla Credit: SYSTEM

Ses soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is op Vrydag 6 Oktober weens ’n veld­brand by die Lohatla-weermag­basis tussen Kathu en Postmasburg dood.

’n Veldbrand, aangejaag deur sterk wind, het Vrydag die lewe van ses lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) by Lohatla geëis. Toerusting en voertuie is ook verwoes.

Drie is met tweedegraadse brandwonde na die naaste hospitaal gebring, en talle ander het geringe beserings opgedoen.

Soldate van oor die land heen is by Lohatla ontplooi ter voorbereiding vir die jaarlikse Vukuhlome-oefening. Die oefening het nog nie begin nie.

Die brand het Vrydag omstreeks 13:45 by die weermagbasis begin toe ’n veldbrand Lohatla­ se westelike grens oor­gesteek het. Dié brand het vermoedelik in die omgewing van Kathu ontstaan en weens sterk wind oor die pad gespring.

Die vyf mans en een vrou wat gesterf het, is: s.sers. Abraham Desember Morajane, s.sers. Sipho Berrington Cele, kpl. Sithembiso Wiseman Ndwalane, kpl. Noxolo Faith Ngubane, o.kpl. Prins Michael Mthethwa en o.kpl. Londiwe Purity­ Zulu.

Die veldbrand het toerusting, wat tente en kamoefleernette insluit, en blykbaar sowat 18 weermagvoertuie verwoes. Sowat 1 300 soldate het al hul besittings verloor.

Een van die na bewering 18 weermagvoertuie wat uitgebrand het.
Derde voorval
Dit is die derde voorval binne drie weke waarin SANW-lede dood is.

Op 20 September is vier lede van 8 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon (8 SAI) in Upington oorlede toe die Samil 50-vragmotors waarin hulle gery het ongeveer 90 km buite Upington omgeslaan het. In dié voorval het een Samil 50-vragmotor ’n ander een gesleep omdat dié onklaar geraak het. ’n Voorband van een van die Samils het gebars, en albei het omgeslaan. Hulle was op pad na Lohatla vir die bywoning van die jaarlikse oefening.

Op dieselfde dag is drie lede van die vloot in ’n duikbootongeluk naby Kommetjie in die Wes-Kaap oorlede.

Willie Aucamp, DA-kiesafdelings­hoof van die Kalahari, sê die brandweer, inwoners, boere en vrywilligers wat lede van brandspanne is, het die naweek onverpoos teen die vuur geveg wat buite beheer gebrand het.

Die wind het Vrydag en Saterdag heeltyd van rigting verander, wat brandbestryding uiters moeilik gemaak het.

Spanne van Gift of the Givers berei hulppakkette voor om die weermaglede wat alles in die brande verloor het by te staan, sê dr. Imtiaz Sooliman, hoof van dié ramphulp­organisasie.

Meer as 1,2 miljoen ha grond is al in vanjaar se brandseisoen verwoes.

Aucamp sê dit is die tweede katastrofiese brand wat die Kalahari-streek in die afgelope paar weke­ tref. Die vorige brand, in die Daniëlskuil-omgewing, het minstens vyf huise en groot stukke weiding vernietig.

Sterk wind het die vlamme aangejaag.

Hy sê dit is duidelik dat met die uiters warm en sterk winde wat so vroeg in die lente ervaar is, dit ’n lang en verraderlike brandseisoen gaan wees, wat ’n groter reaksie van die regering noodsaak.

“Ek was in kontak met die rampbestuursentrum vir beter koördinering en ’n vinniger reaksie ten opsigte van grondspanne en veral lugondersteuning. Dit is noodsaaklik om te verseker dat brande in die kortste moontlike tyd onder beheer gebring word.”

Toerusting, wat tente en kamoefleernette insluit, is vernietig.

Ses soldate het in die brand omgekom.

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het haar meegevoel met die familie, vriende, kollegas en geliefdes van die oorledenes betuig. Modise en ander senior weermagoffisiere sou die gebied Dinsdag besoek het. Pres. Cyril Ramaphosa het ook sy medelye met die families gedeel.

Kobus Marais, DA-LP en skaduminister van verdediging, bedank die plaaslike boerderygemeenskap wat met eie toerusting probeer help het om die brande te blus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article