The Arc, ‘n kosstalletjie in D’Arcystraat waaruit braaivleis, pap en slaai vir jare verkoop is, is Maandag weggesleep omdat dit onpadwaardig is. Dit gaan met ‘n ander struktuur vervang word.

Foto: Charné Kemp

The Arc, ’n ou munisipale bus wat in D’Arcystraat geparkeer en in ’n kosstalletjie omskep is wat vele honger Kimberliete se mae met braaivleis, pap en slaai gevul het, gaan deur ’n stalletjie vervang word.

Dit volg nadat die Sol Plaatjie-munisipaliteit ’n kennisgewing publiseer het waarin hulle kennis aan die eienaar gee dat die bus binne ’n week geskut gaan word omdat dit onpadwaardig en ongelisensieerd op ’n openbare pad geparkeer staan. Indien die eienaars dit nie self verwyder nie, sal die munisipaliteit dit doen en geen verantwoordelikheid vir enige skade neem nie.

Die kosstalletjie is so ’n instelling in die stad, dit word selfs op Google-maps aangedui.

Die munisipale kennisgewing het inwoners onkant gevang en hul ontsteltenis is op sosiale media weergegee.

Lebogang Konolo het op Facebook gesê die regering faal swart sakemanne.

“Hier word al weer werksgeleenthede vernietig. Gesinne gaan nie meer broodwinners hê nie, en die regering help burgers nie om werk te kry nie. Die regering skuil agter munisipale verordeninge om klein sakemanne te mishandel.”

Maandag (22/08) nadat Konolo gehoor het die bus gaan deur ’n ander struktuur vervang word, het hy sy verligting uitgespreek. 

“Die braaivleis-busdrama is verby. Ek het met die personeel gesels en hulle sê hulle is Dinsdag weer terug. Dit is ’n goeie einde aan die busdrama.”

Maandag het ’n werknemer van The Arc wat nie sy naam wou gee nie, aan NoordkaapBulletin gesê die eienaar is uitstedig. 

“Ons het ’n lisensie om handel te dryf, maar die bus het nie meer ’n geldige lisensie en kan ieder geval nie ry nie. Ons het dit Maandag laat wegsleep. Die bus is eintlik ons kenteken, ons kultuur. Dit is jammer dit het gebeur, maar ons neem kennis. Ons sal die bus met ’n stalletjie vervang.”

Maandagoggend het hulle al hul tafels, braaistelle en kombuistoerusting uit die bus verwyder voordat dit weggesleep is. Volgens die werknemer hoop hulle om weer Dinsdag handel te dryf.

Hy sê die bus is ’n ou munisipale voertuig wat meer as vyf jaar gelede by ’n skrootwerf in Bloemfontein gekoop is. Hulle het kos daaruit van verskeie plekke, waaronder in Graham- en Quinstraat, verkoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article