‘n Ongeluk, waarin twee motors betrokke was, het Sondagmiddag (04/09) op die N14, ongeveer 21 km buite Kuruman, plaasgevind. Daar is 11 mense in die ongeluk dood.

Foto: Facebook / Kuruman Accident and Emergency Ne

‘n Totaal van 11 persone is Sondagmiddag (04/09) dood ná twee voertuie ongeveer 21 km buite Kuruman op die N14 gebots het.

Personeel van ER24 en die provinsiale mediese nooddienste het om ongeveer 16:50 by die ongelukstoneel naby die Kagung-nedersetting tussen Kuruman en Vryburg aangekom.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is die twee voertuie – ‘n Audi en ‘n VW Golf – in die middel van die pad gevind, met wrakstukke wat verspreid op die pad en in die veld gelê het.

Die mediese nooddienste personeel het ’n man buite een van die voertuie gekry, terwyl tien ander persone – vyf in elke voertuig – gevind is.

By nadere ondersoek het die personeel bevind dat al 11 persone reeds oorlede is.

Die besonderhede van die ongeluk is nog nie bekend nie, en verdere ondersoek word gedoen.

Op die Kuruman Accident and Emergency News Facebook-blad is lede van die publiek weereens gemaan om nie foto’s van sulke ongelukstonele – hetsy van die voertuig, die beseerdes of oorledenes – op sosialemediaplatforms te publiseer nie.

“Mense wat foto’s neem van ongelukslagoffers en dit op sosialemedia post, het geen respek vir enigeen nie,” sê ’n verteenwoordiger van die Facebook-blad.

In talle gevalle word die voertuig identifiseer terwyl die naasbestaandes van oorledenes of beseerdes nog nie in kennis gestel is nie.

Dit gebeur ook dat sodra die nuus van so ’n ongeluk versprei, naasbestaandes paniekerig raak en na die toneel jaag om te kyk of dit nie hul kennisse is wat oorlede is nie.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Mothibistad ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Tawana sê die voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die voertuie waarskynlik besig was om ’n ander voertuig verby te steek toe die botsing plaasgevind het.

Volgens hom was daar ses persone in die Audi, en vyf in die VW Golf. Die identiteit van die oorledenes sal bekend gemaak word sodra hul naasbestaandes in kennis gestel is, en die slagoffers geïdentifiseer is.

Intussen het Willie Aucamp, DA-LP en Kiesafdelingshoof van Kalahari, sy meegevoel aan die families van die 11 oorledenes betuig.

“Die voortdurende lewensverlies op ons paaie is onaanvaarbaar. Die DA doen ‘n beroep op die departement van vervoer om sigbare verkeerswetstoepassingsinisiatiewe, op veral brandpuntpaaie waar motorvoertuigongelukke toeneem, te verhoog,” sê Aucamp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article