Wat veronderstel was om ’n konsert onder die sterrehemel te wees moes inderhaas ’n konsert in ’n markiestent word.
“Tog was die sewende boskonsert ’n reuse-sukses,” sê Christo Louw, voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters se Vrystaat-streek en sameroeper van die reëlingskomitee.
Dié konsert by die Mokala- Nasionale Park word jaarliks aangebied om geld in te samel vir die werk wat ereveldwagters doen.
Die vertoning deur Bok van Blerk en sy orkes was die hoogtepunt van aktiwiteite wat van 8 tot 10 April geduur het.
Volgens Louw het al 17 ereveldwagters wat met hierdie projek se reëlings gemoeid was, weervoorspellings dopgehou. Op die nippertjie het hulle besef dat die oop veld nie dié jaar gaan werk nie. ’n Tent is gehuur, en die reën het uitgesak.
Die weersomstandighede het egter geen demper op die gaste se geesdrif geplaas nie.
Volgens Louw het byna al die gaste aangedui dat hulle volgende jaar beslis weer kom.
Paul Colditz, nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters en lid van die Vrystaat-streek, het tydens die geleentheid gesê dat ereveldwagters in 30 streke oor die land heen verdeel is om al 23 nasionale parke te ondersteun.
“Sommige van ons lede woon in ander lande, maar bring hul kant om by te dra tot die sowat R70 miljoen se waarde wat ons jaarliks tot Sanparke toevoeg.”
- Diegene wat volgende jaar se boskonsert wil bywoon, kan hul naam en kontakbesonderhede aan Ina Leamy, bemarker van die reëlingskomitee, deurgee sodat hulle ’n uitnodiging kan ontvang sodra die datum beskikbaar is. Leamy se e-posadres is ina@honoraryrangers.org.





