’n Groep van die beskuldigdes wat van bendeverwante en ander aanklagte soos moord, poging tot moord, ontvoering en bedrog aangekla word.

Foto: Charné Kemp

‘n Vermeende Noord-Kaapse bendebaas, sy meelopers en vroue met tatoeëermerke op hul voorkoppe wat daarop dui dat hulle sy “besittings” is, het Woensdag 23 Augustus die beskuldigdebank in die Kimberley-streekhof volgestaan op die eerste dag van hul borgtogaansoeke wat glo weke kan duur.

Buitekant en teen die mure van die hofsaal het tientalle gewapende polisielede van die taktiese reaksie-eenheid ’n wakende oog oor die beskuldigdes gehou.

Die 21 beskuldigdes word van 56 bendeverwante en ander aanklagte wat moord, poging tot moord, ontvoering en bedrog insluit, aangekla. Die saak, wat na verwagting na die hooggeregshof oorgeplaas sal word, word deur die staat en verdediging as ingewikkeld bestempel.

’n Groep van die beskuldigdes wat van bendeverwante en ander aanklagte soos moord, poging tot moord, ontvoering en bedrog aangekla word.

George Barney Peters (Barney) en sy medebeskuldigdes ontken die aanklagte teen hulle en beskuldig die ondersoekbeampte dat hy partydig is. Peters se mede-beskuldigdes is Shakeerah Pike, Britney Arends, Stephanie Mcanda, Estee Lawan, Janine Plaatjies, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Michael Peters, Clive Pieters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Thabo Sekapano, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico, Hofuza, Jimmy Bantom en Shawn Smith.

In ‘n nuwe saak saamgevoeg
Die saak is saamgestel uit verskillende voorvalle wat in Kimberley, Roodepan, Kuruman, Wrenchville en Mothibistad tussen Augustus 2020 en Februarie 2023 gebeur het. Die verskillende sake is in ’n nuwe saak saamgevoeg en van die verdagtes weer in hegtenis geneem.

Gedurende die ondersoek is bevind dat ’n bende genaamd die Hollanders, na bewering onder Peters se aanvoering, teen ’n ander bende, die Mad Packs, oor beheer in sekere gebiede en gepaardgaande dwelmverwante aktiwiteite baklei.

Adv. Sakkie Nel het namens Peters aangevoer die aanklagte van verkragting is uit vergelding teen hom opgemaak en onwaar. Die klaagsters is jaloers op sy vroue. Hy het glo 24 kinders by sy verskillende vroue, wat deel van sy bende vorm.

Hy ontken dat hy planne gesmee het om ’n man te laat doodmaak.

Peters sê daar is in die afgelope jare op hom geskiet, en hy het gesondheidsprobleme weens sy beserings. Hy het daarna sy taverne en drankwinkel in Kimberley verkoop en weens die aanvalle op hom na Oos-Londen verhuis, en later na Kuruman.

Daar het hy op een van die vroue se foon gesien hoe sy met die ondersoekbeampte dans. Vandaar sy beskuldiging dat die ondersoekbeampte partydig is. Hy ontken dat hy die betrokke vrou aangerand het.

Sy medebeskuldigdes se verklarings is ook aan die hof voorgelees, en gaan nie verdere getuienis in hul borgtogaansoeke aanbied nie.

Die staat wat die borgtogaansoek teenstaan, sal na verwagting verdere getuienis aanbied.

Die borgaansoek gaan volgende week voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article