As ’n bonsai-kunstenaar spits ’n mens jou op ’n kunswerk toe wat voortdurend groei, en dié kunsvorm bied ruimte vir nadenke en verinnerliking.
Om die publiek van Kimberley meer van dié kunsvorm bewus te maak – wat duisende jare gelede in die Ooste ontstaan het – het die Kimberley Bonsai Kai die afgelope naweek ’n uitstalling van bonsai-bome by die Pro Plants-kwekery aangebied.
Hiertydens kon lede van die publiek die kunswerke van die klublede bewonder, en meer inligting oor dié kunsvorm inwin.
Die Kimberley Bonsai Kai is glo een van die oudste bonsai-klubs in die land en is in 1974 gestig.
Kwet van der Merwe, voorsitter van die klub, vertel dat hy die kunsvorm beoefen omdat dit ’n mens stil maak en ruimte vir bepeinsing bied.
Bied verposing in tyd
In die moderne gejaagde lewe is ’n mens tog so angstig om voortdurend te reageer op alles wat om jou aangaan, vertel hy. Die Japanese konsep genaamd “Ma”, wat by die beoefening van bonsai-kuns beleef word, is juis dan waardevol.
“Ma” word as ’n verposing in tyd beskryf; ’n tussenpose waar ’n mens tyd en ruimte kry om asem te skep, te voel, en verbonde aan jouself te raak. Volgens die konsep kan ’n mens nie innerlike groei beleef as daar nie tyd of ruimte is nie.
“Ma” help om betekenis in die lewe te vind.
Die beoefening van bonsai gaan daaroor om plante verdwerg te kweek. ’n Bonsai-boom is tegnies nie ’n miniatuur van die spesie nie, maar ’n verdwergde weergawe.
Hoewel vyf basiese klassieke vorms met die beoefening van bonsai-kuns bestaan, word ’n groot verskeidenheid substyle en veranderinge daarbinne toegelaat.
Elke bonsai-kunstenaar kan daarom sy eie tegniek en styl toepas, vertel Van der Merwe.
Die vyf basiese style is informeel regop, formeel regop, waterval, semi-waterval en hellend.
Talle inheemse bome is uiters geskik om as ’n bonsai-boom te kweek, onder meer die apiesdoring, witstinkhout, olienhout en wildevy.
Verskeie metodes word gebruik om ’n bonsai-plant mee te begin, onder meer saad, steggies, plante uit die natuur, of gelaagdheid.
Talle aspekte dra tot geheelbeeld by
Perspektief, diepte, balans en kontras word met die beoefening van die kunsvorm gebruik. Daarby saam moet die houer waarin die bonsai gekweek word, ’n bekoorlike geheel met die plant vorm.
Suiseki is ’n uitvloeisel van die bonsai-kunsvorm en kan as aksentvoorwerpe of fokuspunte in ruimtes langs die bonsai-plante beskryf word. Suiseki is die waardering van klip as kunsvorm en verteenwoordig waardes soos stabiliteit, langlewendheid en onsterflikheid. Die klippe is in die natuur deur wind, water en tyd gevorm en vervorm, en dra tot die geheelbeeld van die bonsai-kunstenaar se kunswerk by.
Van der Merwe vertel dat die Kimberley Bonsai Kai nuwe lede verwelkom, en veral jonger mense.
By die klub leer lede voortdurend meer oor die kunsvorm. Die klublede vergader elke tweede Saterdag en verskeie temas wat in die jaarbeplanning identifiseer is, word dan bespreek.
Beginnerskursusse word ook van tyd tot tyd aangebied.
Hy sê Pro Plants bied ’n goeie voorraad produkte vir bonsai-kunstenaars.
- Om meer oor die kunsvorm uit te vind, of om by die klub betrokke te raak, bel vir Van der Merwe by 082-447-6797 of besoek Kimberley Bonsai Kai op Facebook.





