Die Vanwykshout, met sy pers stringe blomme in die lente, is ’n ideale boom vir ’n klein tot medium tuin.

Foto: Wikimedia/SAplants

September is Boomplantmaand in Suid-Afrika.

Die viering het ten doel om bewusmaking by Suid-Afrikaners te skep van die belangrikheid daarvan om bome te bewaar, beskerm en plant.

Landsburgers kan by Boomplantmaand betrokke raak deur ’n inheemse boom te plant as ’n praktiese en simboliese gebaar van volhoubare omgewingsbestuur.

Die uitgebreide lys van die Suid-Afrikaanse boom van die jaar vir 2023 sluit die witolienhout (Beddleja saligna), Vanwykshout (Bolusanthus speciosus) en die silwerboom (Leucadendron argenteum) in.

Die witolienhout is ’n geharde, immergroen, vinnig-groeiende en droogtebestande boom met silwergrys blare.

Die boom dra van Augustus tot Januarie wit blomme met ’n soet reuk wat insekte en voëls lok.

Dié geharde boom kan oral oor die land heen geplant word.

Die Vanwykshout is ’n inheemse boom wat maklik in Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga groei.

Die Vanwykshout, met sy pers stringe blomme in die lente, is ’n ideale boom vir ’n klein tot medium tuin.

Die boom het stringe pers blomme in die lente en kan matige ryp weerstaan. Dit kan ook tye van droogte trotseer.

Die boom is ideaal vir ’n klein tot medium tuin, aangesien dit nie te groot groei nie. Dit kan selfs in ’n houer geplant word.

Die boom is ook ’n ideale boom om op ’n sypaadjie te plant omdat dit ’n nie-aggressiewe wortelstelsel het.

Die silwerboom, ’n reuse- silwer protea, het lig-weerkaatsende syagtige blare met ’n silwer kleur. Die boom, wat uniek aan die Kaapse-skiereiland is, groei welig aan die hange van Tafelberg aan die bokant van die Kirstenbosch Botaniese Tuin.

Dit is moeilik om silwerbome te kweek aangesien dit baie kwesbaar is vir fungi, wat die wortelstelsel indring waar dit gebreek of beskadig is.

Bron: South African Landscapers Institue

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article