Die kliphuisie het stoeptrappe en diamante in die tuin.

Foto: Verskaf

Stoffel Visagie, ’n mynwerker en kunstenaar in sy vrye tyd, se kunswerke word deur Pella se berge en die bekende Rooms-Katolieke kerk geïnspireer.

Die Rooms-Katolieke-geloof hou heelwat inspirasie vir Stoffel Visagie se kunswerke in.

’n Beeld van Pella se berge met sy bekende kruise, soos gemaak deur Stoffel Visagie.

Navrae uit die buiteland oor sy kunswerke wat op foto’s op sosiale media verskyn het, laat ’n kunstenaar van die Boesmanland stellig glo dat sy kuns op kunsmarkte en in galerye hoort.

Stoffel Visagie (70) werk op sy hogere ouderdom steeds ondergronds as ’n drywer by ’n myn in Aggeneys. Wanneer hy nie werk nie, maak hy afvalmateriaal “mooi” vir sy kunswerke.

Van sy beelde wat die meeste aandag getrek het, is van die Rooms-Katolieke kerkgebou en die bekende berge in Pella waar hy grootgeword het.

“Ek het nie altyd kunswerke geskep nie, ek het nie eens geweet ek het dit in my nie. Alkoholverslawing het my laat val. Elke keer as ek geval het, moes ek weer van voor af begin.”

Hy is gerehabiliteer.

“Ek het ’n vriend gehad wat kunswerke gemaak het, ek het by hom geleer. Ek werk met hout en klei en ander materiaal wat ek vind. Enige plankie en selfs vuurhoutjies werk vir my. Selfs die houtpanele wat agter hangkaste is, is goeie materiaal om mee te werk. Alles wat ek optel, maak ek mooi. Ek wil dit lewendig maak.”

Wanneer hy beelde maak, kom die inspirasie uit sy binnewêreld. Soos die beroemde kerkgebou met sy dadelbome, die Pella-berge met die twee kruise of koepels met beelde van Moeder Maria daarbinne. Hy het ook ’n huisie met klipmure en ’n rietdak gemaak, kompleet met diamante in die tuin.

“Ek het al by plaaslike kunsmarkte van my werk uitgestal, en die mense sê dit is baie mooi. Maar hulle koop dit nie. Dit is hoekom ek in groter plekke soos Upington en verder moet uitkom. Ek benodig hulp, soos van die departement van sport, kuns en kultuur, om my werke te bemark. Ek wil graag my werke vertoon op plekke waar mense dit kan sien en waardeer, en dit koop.

“Iemand het foto’s van my kunswerke op Facebook gehad, en navrae het selfs uit die buiteland gekom. Daarom is ek seker daar is ’n mark daarbuite,” sê Visagie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article