Te danke aan hulp van die publiek en private sektor kan byna 10 000 vroue wat hul borste weens borskanker verloor het, sagte, gebreide borsprostese kry om te help om hul waardigheid en selfvertroue te herwin.
Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek wat in 2021 begin is, vier vanjaar merkwaardige groei met die insameling van nog 1 273 borsprostese wat deur ondersteuners oor die land heen gebrei of gehekel is.
Danksy ’n skenking van gehaltesportsokkies deur SOX en USN ter waarde van R150 000 wat verkoop gaan word, kan die projek voortgaan om nog prostese voor Oktober 2025 te vervaardig.
Dit sal die totale aantal prostese wat in 2025 aan KANSA gestuur word om te versprei onder vroue wat dit nodig het, op 3 447 te staan bring.
Die ekstra finansiering van wol en materiaal maak dit moontlik om nog breipakkette beskikbaar te stel en volgehoue ondersteuning aan vroue in nood te bied.
“Borskanker raak vroue oor die wêreld heen,” sê René Roux, bestuurshoof van media by Soalidariteit Helpende Hand.
“Sommige vroue kan terselfdertyd ’n borsrekonstruksie kry, maar vir baie is dit nie geldelik haalbaar nie.”
’n Hoogtepunt van vanjaar se projek is die bekendstelling van Tarina Hattingh se boek Oorwinning begin by die eerste tree waarin sy haar stryd met en oorwinning oor borskanker beskryf. Die boek deel haar emosionele en fisiese reis, en haar geloof wat haar gedra het.
“In minder as ’n week het my lewe vol beheer verander na totale onsekerheid, waar ek bloot van uitdaging na uitdaging moes beweeg. Maar in die diepste moeilikhede het God my kom vrymaak en verlos.”
Die boek is gratis in digitale formaat beskikbaar en kan by boesemvriendinne.co.za afgelaai word.
Om betrokke te raak by die #Boesemvriendinne-projek, kan brei-pakkette vir R60 elk gekoop word. Dit sluit al die materiaal in om ’n prostese te vervaardig.
Vir meer inligting hieroor of om saam te brei, besoek boesemvriendinne.co.za.





