’n Geliefde boer van Kakamas is in die Mediclinic Upington aan sy beserings dood nadat hy ernstig beseer is toe hy by ’n transformator van sy sonkragplaas geskok is.
Jannie Spangenberg (67) is op Maandagoggend 27 Februarie op die plaas Zwartbooisberg beseer toe hy ondersoek ingestel het by ’n nuwe transformator. Hy het ’n noodlottige elektriese skok opgedoen.
Sy dogter Marthia Botha het hom na die Mediclinic Upington gehaas.
Hy het daar noodbehandeling ontvang en ’n lugambulans van die Kaap is ontbied wat hom na ’n hospitaal in die Kaap sou neem. Sy toestand het egter versleg en hy het omstreeks 17:00 aan sy beserings beswyk.
Die nuus van Spangenberg se dood het vinnig deur Upington, Kakamas en omstreke versprei. Internasionale kliënte van die Zwartbooisberg-boerdery het ook hul medelye oor sy dood uitgespreek. Spangenberg sal veral onthou word vir sy warm glimlag en groothartigheid.
Sarie Pool Strijdom, sy niggie, skryf in ’n huldeblyk by ’n foto wat sy van Spangenberg op Facebook gedeel het: “Jannie Spangenberg, jy was so ’n suksesvolle boer, pa, vriend en neef. Ons het soveel respek vir jou gehad.”
Sy beskryf haar neef as ’n plat-op-die-aarde mens.
“Die dag onder die druiwe het jy jou hoed neergesit en gesê: ‘Kom sit hier, plat op jul stêre dat ek julle kan vertel van die druiwe.’ Jou wyshede en grappies oor die voëls en die druiwe sal ons altyd bybly, jou afsterwe laat ’n geweldige leemte in almal se lewens met wie jou pad gekruis het,” skryf sy.
Marie Nel, die Spangenbergs se buurvrou, sê hy was ’n goeie vriend en ’n weldoener met ’n groot omgee-hart vir mense, kerke en skole in die omgewing.
“Hy wou vir almal altyd net ’n beurt of geleentheid gegee het in die lewe. Hy was ’n planmaker van formaat.”
Dalene Burger sê daar was altyd net nog iets wat Spangenberg vir mense wou gee of doen.
Hy word oorleef deur sy vrou, Santa, sy dogters, Marthia, en Christine van Zyl, sy skoondogter, Amy Spangenberg, en agt kleinkinders.
’n Gedenkdiens word Saterdag (11/03) om 08:00 in die NG kerk Kakamas gehou.





