Wilhelm van Zyl

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die gemeenskap van De Aar en omgewing is geskok en hartseer oor die dood van Wilhelm van Zyl wie gesterf het nadat hy Vrydag (26/08) deur ’n swerm bye aangeval is.

Van Zyl, van die plaas Varkfontein tussen De Aar en Britstown, was allergies vir bysteek.

Hy het gereeld medeboere gehelp deur ondersoeke met ’n sonartoestel op hul dragtige kleinvee te doen.

Van Zyl is Vrydagoggend, net ’n dag ná sy 48ste verjaardag, deur ’n swerm bye by ’n hek op sy plaas aangeval.

Sy broer Karl beskryf hom “as ’n groot ou wat ’n klein hart gehad het en ’n bitter goeie mens was”.

Karl sê Wilhelm het Vrydagoggend met sy bakkie op Varkfontein gery en wou deur ’n hek gaan. Hy het uitgeklim toe die bye uit ’n korf sowat 300 m van daar af hom toege­takel het.

“Dit lyk asof hy terug in die bakkie geklim het, maar die ruite was oop en hy het weer uit die bakkie gespring en dit lyk asof hy vir die bye probeer weghardloop het. Dit is wat ons kan aflei – ook uit sy laaste oproepe om hulp.”

Karl sê Wilhelm het eers sy naaste buurman, André Snyman, gebel, maar dié was in die Kaap.

“André het my gebel, terwyl Wilhelm ook vir Deon Oberholzer, ’n ander buurman, gebel het om hulp te vra. Ek het nog gou iets vir hom by die apteek gekoop voordat ons albei na sy plaas gejaag het, maar toe ons daar aankom, was dit te laat. Wilhelm was allergies vir bysteek en het op die telefoon gesê hy sukkel om asem te kry.”

Hy sê sy broer het nie self met bye geboer nie, maar daar was ’n swerm bye in ’n kas op die plaas.

Die begrafnis sal moontlik Vrydag op die familieplaas Swartkoppies naby De Aar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article