Is jou kind ’n boelie, of word jou kind geboelie?

Foto: Unsplash/Timothy Eberly

Hoe weet ’n mens dit is net rof speel tussen kinders, of boeliegedrag?

Boeliegedrag vind selfs in kleuterskole plaas.

Hoe moet jy as ouer of onderwyser die saak hanteer?

Afrikaans.com het met die vroeëkinderontwikkelingspesialis en eienaar van Oasis Club Learning, Yolandi van den Heever, hieroor gesels.

Is jou kind ’n boelie, of word jou kind geboelie?

Sy vertel meer:

Wat is boelie?

Kleuters en peuters moet nog ’n begrip van reg en verkeerd aanleer. Op hierdie ouderdom is hulle redelik selfsugtig, wat ’n natuurlike verskynsel op dié ouderdom is. Kleuters en peuters speel rof, stamp en skater en lag. Soms bly ander in die slag.

  • ’n Boelie is iemand wat iemand anders seermaak.
  • Hierdie gedrag word oor ’n tydperk herhaal (teenoor dieselfde persoon).
  • ’n Magswanbalans bestaan tussen die partye.
  • Boeliegedrag kan fisiek, emosioneel of sosiaal wees.
  • Emosionele boelies fokus op verbale boeliegedrag (dink aan die tipiese wê-wê-wê-wê-wê singdreunkreet).
  • Sosiale gedrag sluit die uitsluiting van ’n kleuter uit speletjies of aktiwiteite in.

My kind word geboelie. Hoe nou gemaak?

Ouers moet nooit ‘n kind se klagtes ignoreer of minag nie. Kyk uit vir tekens soos:

  • jou lewenslustige kind wil nie meer skool toe gaan nie;
  • jou kind wil nie vertel saam met wie hy of sy gespeel het nie; en
  • jou kind soek verskonings om nie deel te neem aan aktiwiteite nie, veral by die skool.

 ‘n Ouer moet hierdie veranderinge in jou kind ter harte neem en bespreek met die skool en onderwyser. Jy as ouer is jou kind se beste kans in situasies soos hierdie en jy moet en mag op optrede aandring.

Indien jou kind ‘n slagoffer van boeliegedrag is, kan spelterapie van hulp wees. Luister na jou kind en let op na jou kind se gedrag.

  • Moenie jou kleuter se ervarings aflag of wegpraat nie, neem kennis en tree met insig op.
  • Dis nie wys om self die boelie aan te vat of direk die ouers te nader nie.
  • Maak vooraf seker wat die kleuterskool se boeliebeleid behels en hoe dit toegepas word.

My kind is die boelie!

Maak seker dat die gedrag werklik aan die vereistes van boeliegedrag voldoen. ’n Mens moet baie versigtig wees om veral kleuters te etiketteer.

Maak seker dat die kind wat optree as die boelie nie self ’n slagoffer van die gedrag is nie (soos byvoorbeeld vanaf ’n ander kind, ouers of ander mense in hulle lewe nie).

Indien jou kind boeliegedrag toon, is dit belangrik om nie te maak of dit net gaan weggaan nie. Dit is gedrag wat hanteer moet word. Kry hulp, vra raad en bou ’n verhouding met die skool sodat daar saam oplossings gevind kan word.

Raadpleeg ’n kundige

Boeliegedrag kan nie reg geslaan word nie. Die oorsaak van die gedrag moet bepaal word en ’n spelterapeut sal hier kan help. Dit is absoluut belangrik om die hele gesin as ’n geheel te beskou wanneer so iets hanteer word, aangesien die probleem heel dikwels voorkom by kleuters wat self slagoffers is van hierdie gedrag.

Bewusmaking

  • Bou altyd aan ’n oop en eerlike verhouding met jou kind. Moenie swak gedrag probeer regverdig deur verskonings vir die persoon te soek nie.
  • Ons moet versigtig wees om boeliegedrag te regverdig deur te maak of goeie gedrag dit ongedaan maak.
  • Bestee tyd saam met jou kind. Dit is al manier wat jy sal kan agterkom as sy of haar gedrag verander of iets fout is.
  • Bemagtig jou kind om vir hom- of haarself op te staan – sonder om terug te boelie.
  • Moenie afknouende gedrag vanaf jou kleuter teenoor jouself toelaat nie. Dit is onaanvaarbaar as jou kleuterseuntjie jou met die vuis boks.
  • Moenie afknouende gedrag vanaf jou kleuter teenoor diere toelaat nie. Dit is so dat peuters veral dikwels hardhandig met diere werk, en dit alleen dui nie op ’n boelie nie – maar selfs peuters kan met liefdevolle, maar ferm leiding leer om nie so hardhandig te wees nie.
  • Stel die voorbeeld. Ons kinders doen nie soos ons sê nie, hulle doen soos ons doen. Let op jou eie gedrag teenoor ander mense en diere. Jou kind maak soos jy maak.

Afrikaans.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article