Danksy ’n liefde vir boeke en ’n hunkering om meer te weet, gedy die Petrusburg-leeskring al 36 jaar in dié klein dorpie aan die soom van die N8-roete tussen Kimberley en Bloemfontein.
Die lede bespreek nie net boeke en skrywers nie; hulle gaan op spooktoere in Kimberley of woon toneelstukke op die Vrystaat Kunstefees of die gespreksessies by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein by.
Op ’n keer het hulle ook die plaas Janee buite Koffiefontein besoek waar die bekroonde skrywer Etienne Leroux gebly het.
Elke byeenkoms rondom ’n teepot en sny koek is ’n lewendige gesprek waarin menings en sienswyses behoorlik gelug word.
Van die skrywers wat die leeskring al toegespreek het, is Louis Bothma, Francois Smith, Fanie Viljoen, Irma Joubert, George Weideman en Jaco Jacobs. Toe Bothma oor veldslae van die Anglo Boere-oorlog (ABO) gepraat het (waarvan baie in die omgewing plaasgevind het), is hul mans ook genooi.
Anel Grobbelaar, voorsitter, sê hulle hou tien byeenkomste per jaar.
“Elke lid kry ’n beurt om ’n boek van haar keuse te bespreek. Marianne Myburgh het byvoorbeeld met haar spreekbeurt vir ons aan ’n paar Afrika-skrywers voorgestel. Sy het verskillende boeke gebring en ’n bietjie van elke boek vertel. Op dié wyse het ons wonderlike skrywers uit Ghana, Kenia en Zimbabwe ontdek.”
Myburgh is een van die eerste lede van die leeskring wat in 1986 deur die destydse dorpsbibliotekaresse gestig is.
Sy vertel aanvanklik was byeenkomste streng formeel en is met skriflesing en gebed geopen.
“Daar was ’n voorsitter, sekretaresse en ’n tesourier, en almal het op rye stoele gesit. Deesdae vergader ons in ’n restaurant of by iemand se huis. Die gesprekke is lewendig. Dit is lekker, want as almal saamstem oor ’n boek is dit nie lekker om te bespreek nie. Ons word uit ons gemaksone geruk want ons moet boeke uit die ander lede se sienswyses interpreteer.
“Dit is wonderlik as deskundiges en skrywers met ons oor die agtergrond en die boek-in-wording gesels. Naln se kundiges het aanvanklik gehelp met keuses van boeke in samewerking met die distrik se biblioteekdienste.
“Anel versamel die ongelooflikste boeke by boekwinkels en kunstefeeste waar sy boeke kies wat ons nooit sou lees nie.”
In Maart gaan die groep na Naln waar Leana Lategan, voormalige hoofvakkundige beampte, The Promise van Damon Galgut gaan bespreek.
“Sy is ’n ingeligte kenner, wat heerlike staaltjies vertel en agtergrond verskaf.”
Minnie Griessel (81), wat 38 jaar lank ’n onderwyser was, geniet haar aftrede in die dorp waar sy skoolgegaan het.
“Ek lees my vrek. As ek ’n boek wil hê, koop ek dit. Ek neem dit nie uit nie.”
Sy het dus ’n groot versameling boeke, asook aandenkings uit die ABO.
Griessel was deel van Etienne Leroux en sy vrou se vriendekring, by wie sy baie op sy plaas gekuier het.
“Ek koester die boeke wat hy vir my geteken het.”


