Om te verseker dat haar antieke taal nie uitsterf nie, het die minister van sport, kuns en kultuur ’n meertalige woordeboek oorhandig aan die enigste oorlewende persoon wat N|uu vlot kan praat – Katrina Esau van Upington.
Nathi Mthethwa het verlede week in die Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria, op die bekendstelling van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) se internasionale dekade van inheemse tale, amptelik ’n N|uu-en-Nama-woordeboek aan Esau oorhandig.
Volgens Mthethwa is dit ’n meertalige woordeboek, aangesien die N|uu-terme ook in die dialek van Afrikaans uit die Noord-Kaap, asook Suid-Afrikaanse Engels en Khoekhoegowab, verteenwoordig word.
“Die woordeboek stel vier tale van die Noord-Kaap ten toon.
“Dis nie net in ’n gedrukte eksemplaar beskikbaar nie, maar ook in ’n gratis app-weergawe en op ’n aanlyn woordeboekportaal toeganklik vir sowel plaaslike as internasionale gebruikers.”
Volgens Mthethwa toon sy departement met sy gespesialiseerde tegniese ontwikkeling deur African Tongue en die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR) is toegewyd aan moedertaalonderrig en “die reg van ons burgers om toegang tot hul voorvaderlike linguistiese erfenis te hê”.
“Ons is trots op die bydrae van Esau, sonder wie se pogings die woordeboek nie moontlik sou wees nie.
“Sy het haar taal eiehandig bevorder en onbaatsugtig tyd en energie aan die behoud en die bevordering daarvan gegee.
“Sonder haar pogings sou die werk van die akademici, die betrokke navorsers en die skep van die woordeboek nie moontlik gewees het nie.”
Mthethwa sê die woordeboek is ’n manier om die kulturele identiteit en waardigheid van Esau se mense te beskerm.
Esau het ná die oorhandiging in Afrikaans gesê: “As die minister so mooi praat, dank ek die Here. Baie dankie, my mense. Ek wil hê die taal moet lewe as ek doodgaan.”
Esau het vertel hoe sy in Upington ná skool twee tot drie uur lank met skoolkinders gesit het om hulle N|uu te leer praat.
“Dit is swaar om die N|uu-taal te leer vir ander, maar (uit) die begeerte van my hart, doen ek dit.”
Haar broer, Simon Sauls, is verlede jaar dood en haar susters, Hanna Koper en Griet Seekoei, in 2020.
Dis nou net sy wat nog N|uu vlot kan praat.
Sy het haar dogter, Claudia Snyman, ook N|uu geleer.
Unesco het N|uu reeds as ’n taal op die rand van uitsterwing geklassifiseer.
Die doel van die bekendstelling, wat in vennootskap met die Ditsong Nasionale Kultuurhistoriese Museum en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSALB) aangebied word, is om ’n plan van aksie uit te stippel wat tot die ontwikkeling en bevordering van Suid-Afrika se inheemse tale moet lei.
– Seugnet van Zyl, Netwerk24


