In die betoë van ’n lastersaak teen John Block, eertydse Noord-Kaapse ANC-leier, het die hooggeregshof in Kimberley op Woensdag 7 Februarie gehoor dat Block en sy regspan ongegronde bewerings teen twee regters gemaak het as ’n strategie om sy destydse strafverhoor te ontwrig.
Block is laat verlede jaar op parool vrygelaat nadat hy ’n gedeelte van sy vonnis van 15 jaar vir korrupsie uitgedien het. Hy is deur een van die betrokke regters in 2016 gevonnis. Block is skuldig bevind dat hy sy politieke invloed gebruik het om huurkontrakte vir staatsdepartemente teen ongehoorde pryse te beding.
Oudregterpresident Frans Kgomo dagvaar Block en ’n prokureur vir laster en eis skadevergoeding van altesaam R3 miljoen. Dit spruit uit Block se korrupsie-saak voor regter Violet Phatsoane in 2015 en 2016.
Block het voor sy vonnisoplegging in ’n eedsverklaring beweer dat Kgomo onbehoorlike invloed op Phatsoane sou uitoefen en haar in ’n telefoniese gesprek sou aansê om Block skuldig te bevind. Block se versoek aan Phatsoane om die verhoor uit te stel hangende ’n ondersoek na die beweringe is verwerp. Die eedsverklaring is toe by die hofsitting ingedien as deel van ’n spesiale inskrywing.
Block het verlede jaar getuig sy destydse prokureur, wyle Abel (Dali) Mjila, het hom vertel dat Nano Matlala, ’n prokureur, van die beweerde voorval by ’n ongeïdentifiseerde regter verneem het. Die ongeïdentifiseerde regter was glo in Kgomo se teenwoordigheid toe die telefoniese gesprek met Phatsoane plaasgevind het.
Block het die reg op ’n regverdige verhoor gehad en was bekommerd oor die regter se partydigheid omdat sy aansoek om ontslag ook afgekeur is. Regter Phatsoane het nie skade gely weens die bewerings nie, want die klag teen haar is verwerp en sy is intussen bevorder tot adjunk-regter-president.
Wyle Mjila het in sy pleitstuk gesê hy het die inligting van Matlala verkry en dit in die teenwoordigheid van ’n senior advokaat met Block bespreek. Dit was sy plig as regsgeleerde om Block in te lig. Block as kliënt het verdere instruksies gegee. Sanele Mjila, namens die Mjila-boedel het aangevoer hy het nie, en het geen motivering gehad om die storie op te maak nie.
Matlala het in getuienis ontken dat enige telefoniese gesprek tussen die regters plaasgevind of iemand dit aangehoor het, of dat hy enige inligting daaroor met Mjila gedeel het.
Adv. Sean Rosenberg SC, namens Kgomo, het aangevoer die bewerings was deel van ’n desperate strategie deur ’n hooggeplaaste politikus om tronkstraf vry te spring. Die bewerings is ’n aanval op die regbank en op Kgomo se karakter, waardigheid en integriteit. Die vals bewerings kan die publiek se vertroue in die regstelsel skaad.
Block het beweringe gemaak sonder om enige stawing te verskaf. Hy het nie eens die moeite gedoen om uit te vind wie die ongeïdentifiseerde regter is, of ’n verklaring van Matlala bekom nie. Selfs nie eens Mjila was destyds bereid om ’n eedsverklaring oor die bewerings in te dien nie.
Block en Mjila se boedel wat volhou Matlala is die oorsprong van die bewering, het Matlala nie in kruisondervraging aangeval oor sy weergawe dat die telefoniese gesprek tussen die regters of sy gesprek met Mjila nooit gebeur het nie.
Volgens Rosenberg beteken dit óf Mjila óf Block óf albei het die storie bekonkel, waarvoor Block nooit verskoning gevra het nie. Rosenberg dring aan op skadevergoeding van R1,5 miljoen van Block en dieselfde van Mjila se boedel.
Hy eis ook dat Matlala vir regskoste verantwoordelik gehou word vir lasterlike bewerings teenoor die regters in sy twee stelle betooghoofde waarvan hy hom nie wil distansieer nie.
Luluma Lobi het namens Block, en adv. Macgregor Kufa namens Matlala opgetree.
Regter Nathan Erasmus het uitspraak voorbehou.




