Diegene wat die belewenis van ’n bibberkoue swem op hul emmerskoplys het, kan Saterdag (08/07) aan die Ysbeerswem-uitdaging by die witgesneeude Sutherland deelneem.
Dié Ysbeerswem-uitdaging word vanjaar vir die eerste keer amptelik by die Rogge Cloof-natuurreservaat aangebied, hoewel dit reeds drie keer vantevore in ’n nie-amptelike hoedanigheid hier plaasgevind het.
Felix Burri, wie 28 jaar gelede begin het om Ysbeerswem-uitdagings in die Noord-Vrystaat aan te bied, sê dit vind in ’n beton swemdam in dié reservaat plaas. Hy reken dit is die ideale geleentheid vir iemand met só ’n wens op sy emmerskoplys om deel te neem, en dan van die lys te skraap.
Vir Saterdag word ’n wind van 35 km/h voorspel, ligte sporadiese reën, asook ’n minimum van -1°C en ’n maksimum van 7°C. Die wind kan die aanvoelbare temperatuur drasties verlaag, sê Burri.
Swemmers gaan om 12:00 inspring, en indien daar belangstelling is sal nog so ’n geleentheid om middernag plaasvind. Die voorspelde temperatuur vir dan is -6°C.
Al die Ysbeerswem-uitdagings wat Burri aanbied samel geld vir welsynsorganisasies en liefdadigheid in. Die inskrywingsgeld vir deelname, die bokbaardjie-veiling wat beplan word, asook die toegangsgeld, is ten bate van die Johenco-aftreeoord in Sutherland.
Volgens inligting op oceanswim.co.nz kan só ’n swemsessie in yskoue water die liggaam se immuniteitstelsel verbeter. Dit stel ’n goeie dosis goedvoel-hormone vry, verbeter die sirkulasie, verbrand energie, verminder stres en is ’n ideale manier om te sosialiseer.
Op 1 Julie het ’n Ysbeerswem-uitdaging by Modderrivier, Bloemfontein, plaasgevind, waaraan 45 persone deelgeneem het. Op 24 Junie het so ’n geleentheid by Aldam in die Ventersburg-omgewing plaasgevind, met 105 dapperes wat die ysige water aangedurf het.
- Vir meer inligting, bel vir Felix Burri by 082-851-4584 of besoek die Facebook-blad Polar Bear/Ysbeer swem.


