Om op ’n wildvreemde perd op ’n vinnige galop aan tentpegging deel te neem, en boonop te moet afsak om ’n teiken op die grond raak te steek terwyl jy nie weet hoe die perd gaan reageer nie – dít is uitdagend.
“Daar was ’n hele paar slegte valle,” vertel Cara-Lee Greyling, wat onlangs in Jordanië as lid van die Suid-Afrikaanse vrouespan aan ’n internasionale byeenkoms deelgeneem het. Greyling is die stalbestuurder en ryskool-afrigter by die Mein Heim-landgoed buite Kimberley.
Van dié grand prix-toernooi vir vroue, aangebied onder die vaandel van die International Tent Pegging Federation (ITPF), het die Suid-Afrikaanse span as wenner teruggekeer.
Greyling is aanvanklik in die derde plek in die individuele afdeling aangewys, maar het Donderdag 27 Oktober ’n skrywe van die ITPF ontvang waarin aangedui is dat sy die tweede plek verower het.
Ananje Schutte van Jacobsdal, ook deel van die Suid-Afrikaanse span, is die individuele kampioen. Schutte en Greyling is albei deel van die Vrystaatspan.
In dié toernooi het die Suid-Afrikaners teen deelnemers van onder meer Jordanië, Oman, Soedan, Rusland, Belarus, die Verenigde Koninkryk, Kazachstan, Koeweit, Noorweë, Indië en Pakistan meegeding.
Greyling en Schutte is vergesel deur spanbestuurder Dalene Baksa en afrigter André Louw, asook Suritha Venter van Gauteng as die derde lid van die span.
Asemrowende belewenis
Dit was vir Greyling ’n besonderse belewenis om teen 13 ander lande deel te neem. Hoewel die kommunikasie ’n bietjie moeilik was, was die venue en organisering puik.
“Jordanië was ’n belewenis, en om die stad Petra te sien, asemrowend,” sê Greyling.
Tydens só ’n toernooi verskaf die land wat dit organiseer al die perde vir die ruiters, en in dié geval het die weermag van Jordanië sy perde beskikbaar gestel. Dié perde moes al aan die sportsoort blootgestel wees.
Elke perd word met ’n nommer gemerk, en elke ruiter trek ’n nommer. Die spanlede moet dan ná slegs vier lopies – een sonder wapens en drie met wapens – op die perde besluit watter perd vir watter ruiter en vir watter nommer geskik is.
Vanaf ses maande op perd se rug
Greyling, wat ’n honneursgraad in BSc dierkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het, het aan die Hoërskool Hangklip in Queenstown matrikuleer.
Sy kom uit ’n tentpegging- en perdefamilie en het al aan die meeste perdesportsoorte deelgeneem.
Haar ma was ’n internasionale beoordelaar, en haar pa het provinsiaal deelgeneem. Hy het haar afgerig vandat sy op ’n perd kon sit.
Sy was ses maande oud toe sy die eerste keer op ’n perd se rug gesit het, en op 22 maande het sy aan haar eerste “on-lead”-skou deelgeneem. Op vyfjarige ouderdom het sy die eerste keer aan tentpegging deelgeneem en rykuns-kursusse gedoen.
Greyling was omtrent 12 of 13 jaar oud toe sy in die Oos-Kaap se o.14-span ingesluit is. Sy was al voorheen deel van die nasionale span.
Vir die afgelope 11 jaar is sy reeds lid van die Vrystaatspan.
Tentpegging
Omdat tentpegging ‘n militêre agtergrond en oorsprong het, is netheid, beheer en styl van uiterste belang.
Dit is ’n span én individuele sport waarin ruiters met swaarde en lanse onder meer voorwerpe op die grond moet raak steek of van ’n oorhoofse raamwerk moet afsteek op ’n baie vinnige galop, wat glo tot ongeveer 50 km per uur kan wees.
’n Beheerde stop en netjiese afstap van die baan is ná die vinnige galop boonop belangrik.
Slegs goed afgerigte perde met geen vrees vir geraas of onverwagse bewegings, is geskik vir die sportsoort.
Die ruiter moet uitstekende ruitervaardighede hê om op ’n perd op volle galop steeds die regte houding te behou om verdere punte vir styl en akkuraatheid te verwerf.
Hoewel tentpegging van gimkana afkomstig is, verkies dié in ruiterkringe om dit nie na pensteek te vertaal of die woord gimkana te gebruik nie.
“Gymkhana” is ’n Hindu-stamwoord wat perdesport beteken. Dit het in 1851 in Indië ontstaan toe berede soldate met swaard en lans hul mede-soldate se tentpenne en toue verwyder het. Die speletjie het tot onaangenaamhede gelei en daar is besluit om ’n amptelike sport te begin.
Dié sportsoort is aan die begin van die 20ste eeu deur die Dragoon Guards en Bengal Lancers na Suid-Afrika gebring.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het die sportsoort verder oor die land heen posgevat.
As ’n ryskool-afrigter glo Greyling onwrikbaar aan die voordele wat perdry vir ’n kind inhou.
Benewens die verbetering van balans, propriosepsie en fisieke krag, leer ’n mens soveel sielkundige lesse by perde, vertel sy. Dit sluit leierskap, toewyding, empatie en geduld in.





