Tydens die optogte verlede week in Douglas, Hopetown, Prieska en Vaalharts waarin besproeiingsboere, werkers, landboumaatskappye, taxi-organisasies, sakelui en gemeenskappe teen beurtkrag opgeruk het, is vrese oor die krimpende ekonomie gelug.
Plaaswerkers en kleinboere het met hul eweknieë daarop aangedring dat Eskom beurtkrag aan boere in plant- en oestyd verlig.
Besproeiingsboere en hul werkers vrees dat oeste kan misluk weens ’n gebrek aan water te midde van hoë temperature waarin die grondtemperatuur ook hoog is.
Weens beurtkrag kan pompe en spilpunte nie landerye benat nie. Boere en werkers moet snags pompe en spilpunte aanskakel wanneer daar krag is. Boonop is boere verplig om krag in spitstyd teen hoër tariewe te gebruik. Hele oeste is op die spel en daarmee saam plattelandse werksgeleenthede.
Eskom het Sondag (22/01) aangekondig dat hy beurtkrag van fase 6 na laer vlakke verlaag. André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het gesê die kragreus sal ’n uitsondering met landbou maak. Hy het met Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, vergader. Hulle sal met georganiseerde landbou saamwerk sodat gewasse aanhou benat word.
“Ons werk vir ons kinders, ons wil nie in armoede verval nie. Elke dag raak Eskom se probleme erger en ons kinders gaan ly,” het Willem Jacobs van Genade Boerdery Vrydag (20/01) in ’n protesoptog gesê.
Morgan Katz sê hy weet nie of hy oor ses maande ’n werk gaan hê nie, en hy “werk nou so hard om heeltyd spilpunte aan te sit dat ek my gesin skaars sien”.
Martin Basie, ’n onderwyser in vroeë kinderontwikkeling, het ook ’n banier geswaai om sy ontevredenheid oor beurtkrag te wys. Beurtkrag lei tot geen water en geen krag, en dan moet kinders vroeg huis toe gestuur word.
“Dit is onaanvaarbaar.”



