Jaco Cilliers, ondervoorsitter van die Jongboervereniging en van De Hoek-boerdery buite Douglas, is moedeloos.

In ideale omstandighede is 24 uur net genoeg om water vir gewasse in planttyd te gee.

“Nou moet werkers, wat oortyd betaal moet word, snags pompe aansit. Hy moet opstaan, na elke pomp ry en dit aansit. Dit kan tot twee ure vat om die hele stelsel aan te kry.

“Dit is skaars aan, dan begin beurtkrag of kragonderbrekings. Die gedurige aanskakeling sit stremming op ’n stelsel se onderdele en geen onderhoud kan gedoen word nie.”

Gabriel Viljoen, voorsitter van die Oranjerivier-produsente-alliansie en eienaar van die Raaswater-landgoed buite Upington, sê druiweboere is onder geweldige druk.

“My en ander boere se uitvoertafeldruiwe is meesal klaar verpak. Ek moet duur brandstof vir kragopwekkers gebruik om klaar te verpak. Intussen moet ek te midde van die hittegolf die rosyne-druiwe besproei wanneer ek krag het, al betaal ek die duurste tariewe.”

Sy druiwe-oeste is vanjaar ligter ná twee hittegolwe in Oktober en November waarin druiwetrosse minder korrels het, en elke korrel ligter is.

Nicol Jansen, voorsitter van Agri-Noord-Kaap, sê die bedryf het ’n groot ekonomiese invloed op die breër gemeenskap, maar veral in die landelike gebiede waar dit die grootste werkverskaffer is.

“Geldelike verliese weens beurtkrag gaan die besteebare inkomste, en gevolglik die ekonomie, geweldig knou. Die swak koringoes het reeds ’n geskatte verlies van R1,2 miljard meegebring. Daar word swaar op die mielie-oes, wat nou op die landerye is, gesteun om vir die verliese te vergoed.

“Die vrugte- en groentebedryf is onder druk vanweë onvoldoende besproeiing en om die koueketting te handhaaf om deurlopende verpakkingskapasiteit te verseker.

“Sowat 90% van vrugte en groente word onder besproeiing verbou. Indien dié produksieverlies vererger, sal die aanbod op die markte afneem wat die vraag-en-aanbod balans versteur. Verbruikerspryse gaan styg.”

Die verskillende landbousektore se behoefte aan elektrisiteit is kompleks en strek wyd.

’n Taakspan is die afgelope naweek ná dringende samesprekings met Thoko Didiza, minister van landbou en landelike ontwikkeling, saamgestel.

Die taakspan moet binne twee weke met aanbevelings kom.

Die landboubedryf is in die streng inperkingstyd van die Covid-19-pandemie as ’n noodsaaklike diens wat kos produseer toegelaat om te produseer.

Landbouers het hul gesondheid en lewe in gevaar gestel om aan te hou boer. Met elektrisiteitstekorte wat dieselfde risiko van voedseltekorte inhou, kan landbou nie oeste red nie.

“ ’n Rampverklaring en verklaring dat landbou ’n noodsaaklike diens is, is van uiterste belang om die voedselproduksie te stabiliseer.

“Ons pleidooi is dat besproeiingsboere deur die nag kan besproei wanneer die effektiwiteit van benatting beter is. Die afgelope naweek was vyf gebiede in Suid-Afrika die warmste plekke op die aardbol, met 46,9 °C by Augrabies en 42 °C in Upington.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article