BloemNuus

Bestuurder van bakkie van noodlottige N8-ongeluk, gaan vervolg word

Die bestuurder van die bakkie in die noodlottige ongeluk waarin drie kinders op die N8 dood is, gaan vervolg word.

Die polisie het Maandag 22 September bevestig dat die 19-jarige bestuurder van ‘n bakkie wat
24 Januarie in ‘n noodlottige ongeluk was waarin drie leerlinge van die Dr. C.F Visserskool oorlede is, vervolg gaan word.

Twee boeties Ryan (6) en Ayden (8) Smih, en hul niggie Leané van Papendorp (8,) is in die botsing by die verkeerslig op die N8 by die Aljos Superspar buite Bloemfontein dood.

Ryan en Leané is op slag dood en Ayden is later die dag van die ongeluk in die Busamed-hospitaal oorlede toe sy hart ‘n tweede keer gaan staan het.

Die drie wat in die ongeluk op die N8 dood is, is van links Leané van Papendorp en die boeties Ryan en Aiden Smit.

Volgens kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, gaan die verdagte teregstaan op drie aanklagte van strafbare manslag, een van roekelose en nalatige bestuur, die verontagsaming van ‘n padverkeersteken asook die oortreding van regulasies wat betrekking het op die hoeveelheid mense wat hy in dié motor kon vervoer.

Daar word verwag dat die verdagte sy eerste hofverskyning op 3 Desember sal maak.

Earle sê die Suid-Afrikaanse polisiediens werk nou saam met die Nasionale Vervorgingsgesag om ‘n deeglike saak voor die hof te bring.

Die direkteur van openbare vervolging het vroeër die dossier twee keer aan die polisie teruggestuur vir verdere ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article