Twee van die drie beskuldigdes wat na bewering vir Attie Jooste op sy kleinhoewe buite Jan Kempdorp in Januarie 2018 vermoor het, het op Maandag 25 November in die hooggeregshof in Kimberley vanuit die getuiebank ontken dat hulle iets van die moord wis.
Hulle het die skuld op ene Batman, ’n gemeenskaplike kennis en een se buurman gepak, wat glo sou gesê het dat hy ’n man gesteek en van die gesteelde goedere op hul eiendom versteek het.
Uit getuienis blyk dit dat Batman die polisie ure ná die moord ontbied het weens die beskuldigdes se verdagte optrede waar hulle whiskey gedrink het by ’n hoenderplaas in die omgewing wat aan een van die beskuldigdes se familie behoort.
Lucky Bohelo, Kerneels Persent en Nicardo Mark Hutama (Meksiko) word van roof met verswarende omstandighede, asook moord, aangekla. Hulle het na bewering rondom Saterdag 7 Januarie 2018 vir Renier Adriaan (Attie) Jooste op sy kleinhoewe buite Hartswater met ’n mes of soortgelyke voorwerp in die bors doodgesteek en beroof.
Die staat voer aan Jooste se verlate motor is op die betrokke dag sowat 300 m van sy huis gevind. Die polisie is ontbied, wat Jooste se lyk in die huis gevind het. Terwyl konst. Stefaans Mangate op die toneel was, het hy inligting oor die oorledene se besittings ontvang, waarna hy na Hutama se eiendom is. Daar het hy van die oorledene se goedere in die huis in die drie beskuldigdes se besit gevind.
Persent het in kruisondervraging aangevoer dat hy niks van die moord weet nie. Hy het wel op die Sondag op versoek van Batman sy buurman gehelp om goedere in plastieksakke uit Jooste se gesteelde bakkie te haal en die bakkie te was. Hoewel hy bloed op van die klere in die sakke gesien het, het hy Batman nie daaroor uitgevra nie.
Die klere is glo in ’n hoek van die erf verbrand. Batman het hom R300 betaal. Later het Batman hom ’n bottel whiskey gegee om sy sak op te pas.
Persent, Hutama en Bohelo het saam daaraan by die hoenderplaas gedrink. Persent het glo nooit deur sy regsverteenwoordiger dit aan ’n getuie gestel dat Batman erken hy het ’n man gesteek nie.
Hy ontken Bohelo se weergawe dat hulle op die dag van die voorval saam na Jooste se huis is en dat Persent en Hutama in die huis in is omdat Persent agterstallige loongeld by Jooste gesoek het.
In sy getuienis het Hutama aangevoer dat hy die Saterdag heeldag by sy gesin in Pampierstad was en eers Sondagoggend teruggekeer het Jan Kempdorp toe, maar sy broer het dit in sy getuienis weerspreek.
Hutama sê hy en sy broer sit nie langs dieselfde vuur nie, vandaar die teenstrydigheid.
Hy was glo woedend dat die gesteelde goedere op sy eiendom versteek is. Hy ontken dat hy ooit enige alkohol gebruik het. Volgens hom was daar ook nie bloed aan sy klere daardie Sondag nie.
Vroeër in die verhoor het Annastacia Mokupudi getuig dat sy saam met Hutama na die hoenderplaas is. Hutama het vir haar koeldrank gegee terwyl hy twee bottels Harrier-whiskey uit ’n rooi sak gehaal het.
Die ander twee beskuldigdes het ook daar opgedaag. Die mans het almal whiskey gedrink en sigarette gerook. Persent en Hutama het vir Bohelo beveel om die sak weg te vat. Sy het gehoor hulle praat “diep Tswana” maar sy kon verstaan dat hulle oor die “moord van ’n wit man” praat.
Bohelo het ’n bloedkol op die bopunt van sy hoed gehad, en daar was ’n bloedkol op Persent se regtervoet, bo-op sy tekkie. Sy het “geskrik” en opgestaan om te loop. Dit is toe dat die polisie daar opdaag en die drie mans in hegtenis neem.
Hutama het vir haar gesê sy moet sekere goed in sy huis aan die polisie wys. Sy het een van die polisiemanne na Hutama se huis vergesel en die geheuestokkies en selfone uitgewys.
Advv. Mary-Ann Engelbrecht en Leshnee Pillay kla aan. Adv. Renier Pieterse tree vir Bohelo, adv. Tau Mokgwera vir Persent en adv. Kelly Nxumalu vir Hutama op.
Die verhoor voor regterpresident Pule Tlaletsi duur voort.


