’n Gewese onderwyser (47) van Orania wat van seksuele aanranding van ’n minderjarige aangekla is, het homself vanoggend, 3 Augustus, om die lewe gebring nadat die polisie ’n lasbrief uitgereik het omdat hy nie vir sy volgende hofverskyning opgedaag het nie.
Die man is in Junie op borgtog vrygelaat nadat hy van seksuele misdrywe op ’n minderjarige meisie aangekla is. Die beweerde voorvalle het reeds twee jaar gelede begin. Hy is toe ook by die betrokke skool afgedank.
Nadat die man nie verlede week vir ’n volgende hofverskyning opgedaag het nie, het die polisie ’n lasbrief uitgereik en Orania Veiligheidsdienste (OVD) in kennis gestel.
OVD het die man by sy woonplek besoek om hom te vra om by die OVD-kantoor aan te meld vir oorhandiging aan die polisie. Die man het homself geskiet.
Sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder, sê die man is in die hospitaal in Orania dood verklaar en ’n geregtelike ondersoek word gedoen.
Joost Strydom, Orania Beweging-woordvoerder, sê die polisie en OVD wat altyd goed saamwerk, het die man saam die eerste keer in Junie in hegtenis geneem nadat die bewerings aan die lig gekom het.
“Ons was teleurgesteld dat hy met sy eerste verskyning op borgtog vrygelaat is. Toe hy nie vir sy hofverskyning aan die einde van Julie opdaag nie, het die polisie ’n lasbrief uitgereik en OVD is in kennis gestel.
“Gegewe die aanklagtes en dat hy voortvlugtend kan wees, en omdat OVD ’n verantwoordelikheid het om ons gemeenskap te beskerm, is die oorledene deur OVD versoek om by Orania Veiligheidsdienste se kantore aan te meld. Hy het homself egter geskiet. OVD-personeel en ons paramedici-span het dadelik noodhulp toegepas, en hom na OraniaMED24 gehaas waar hy aan sy beserings beswyk het.”
Volgens Strydom was OVD en die polisie bekommerd oor moontlike selfdood toe die man op borgtog vrygelaat is.
“Die oorledene het met sy eerste inhegtenisneming probeer om selfdood te pleeg. Die voorval is op Orania se geslote kringtelevisiekameras vasgevang en aan die polisie gegee. Orania-amptenare het met die man kontak gemaak, maar hy het hulp van die hand gewys en onderneem om dit nie te doen nie sodat die regsproses sy gang kan gaan.”
Strydom sê OVD se primêre verantwoordelikheid is om die gemeenskap veilig te hou en orde te handhaaf.
“Ons tree konsekwent en ingevolge die reg teen misdaad op. Dit sluit goeie samewerking met die polisie in. Die regsproses wat gevolg word moet billik en tot voleinding gebring word. Iedereen het die reg om sy onskuld te bewys. Die aanklagte waarvoor die oorledene in die hof sou verskyn is baie ernstig en regsprosesse word dienooreenkomstig gevolg. Ons gun die naasbestaandes hulle privaatheid in dié tyd.”
In ’n vroeëre verklaring toe die man in hegtenis geneem is, het Strydom gesê die aanklagte spruit uit klagtes oor gewelddadige optrede deur die beskuldigde.
“ ‘n Lid van OVD het op die klagtes reageer, ooggetuieverslae ingesamel en die voorval op sy patrollielyfkamera opgeneem. Hoewel die betrokke slagoffers nie in daardie stadium formeel klagtes teen die beskuldigde aanhangig gemaak het nie, was daar genoeg regsgronde om ’n dossier te open en verdere ondersoek te doen.”
Klagtes van drankmisbruik en gesinsgeweld het aan die lig gekom. Orania Helpmekaar, Orania se maatskaplike diens, het in samewerking met Orania Regspleging stappe gedoen om rehabilitasieprosesse te begin en verdere gesinsgeweld te voorkom.
Orania Helpmekaar en OVD het die beskuldigde se vrou bygestaan om te verhoed dat die beskuldigde weer haar huis betree.
Kragtens Orania se verblyfregvoorwaardes kan mense wat skuldig bevind word aan sekere misdade verblyfreg ontsê word om die gemeenskap te help beskerm.





