Christopher Hadebe

Photo: Facebook/Clive Will Credit: SYSTEM

Onverwags en onbeplan. Dit is hoe Christopher Hadebe, boorling van Victoria-Wes en werklose pa van drie, die hoofrol in ’n rolprent gekry het.

Die fliek, ixhesha elichithwe neekati aliyo ncitha xesha – Time with Cats is Never Wasted, het aan hom ’n benoeming as beste akteur op die onlangse Kanadese rolprentfees besorg.

Die ander vier benoemings was van Rusland, Turkye, Armenië en België. Die rolprent het reeds 23 benoemings en pryse ontvang.

“Ek was besig om gras te sny toe ’n plaaslike inwoner en ’n onbekende man my genader het,” vertel Christopher.

“Hulle wou weet of ek sou belang stel om in ’n fliek te speel.”

So het Christopher en Clive Will, ’n bekende in reklamekringe, se paaie gekruis. Clive was emosioneel op ’n slegte plek in sy lewe. Die idee om ’n besondere rolprent op die goedkoopste manier te vervaardig het begin vorm aanneem.

“Ek het geweet ek wou dit in die Karoo vervaardig en het verskeie Karoo-dorpies besoek,” sê Clive.

’n Plaaslike inwoner se geesdrif oor sy plan het hom oorreed om die Victoria-Wes-omgewing te gebruik. Hierna het hy deur die dorp gery op soek na moontlike akteurs. Verskeie kandidate is genooi om aan ’n fotosessie deel te neem.

Volgens Clive het Christopher nie werklik voldoen aan die karakter wat hy vir die hoofrol in gedagte gehad het nie. Kundiges in die bedryf het gewaarsku dat dit ’n waagstuk is om Christopher as hoofkarakter te gebruik.

“Tog het ek ’n goeie gevoel oor Christopher gehad. Ons sou ’n paar skote skiet en gesels oor wat in die tonele moes gebeur. Hy het telkens sy beste gegee. Hy het my vertrou en ek moes hom ook vertrou.”

Christopher het geen drama-opleiding nie.

“Dit was harde werk en baie warm,” onthou hy.

“Clive het my stuk vir stuk opdragte gegee. Hy was baie geduldig. Ek het nooit gedink ek sal dit kan doen nie.”

Hy beskou sy betrokkenheid by die rolprent as ’n positiewe ervaring, al moes hy vir die rol sy rastalokke opoffer.

Die vervaardiging van die rolprent het vyf jaar geneem. Vir Clive is dit belangrik dat die proses reg verloop. Afgesien van die klank het hy alles self hanteer.

“Aan die einde het ek kollegas gehad wat my tussen hul programme gehelp het.”

Time with Cats is Never Wasted, die storie van ’n man se stryd met die wêreld rondom hom, is in wit en swart verfilm. Met die uitsondering van een was al die akteurs en die grootste deel van die filmspan inwoners van Victoria-Wes. Hoewel Christopher nie op 27 Maart as beste akteur aangewys is nie, is dit steeds ’n prestasie vir hom, Clive en die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

“Ek is trots om my land te verteenwoordig,” sê Christopher.

“Toe ek hoor ek is benoem, het ek gehuil.”

Vir Christopher is swaarkry nie die einde van die wêreld nie.

“ ’n Mens moet altyd probeer om die beste uit jouself te kry. Moet nooit moed opgee nie.”

Vir nog ’n rolprent sien hy vir seker kans. ’n Volgende storie het reeds in Clive se kop kom nesmaak, en hy hoop om teen die einde van 2022 met verfilming te begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article