Sedert verlede week het swaar reën, donderstorms, sterk wind en haelbuie oor groot dele van die land voorgekom, met sneeu wat op berge in die Wes- en Oos-Kaap geval het. Volgens Vox Weather het dit 58 mm in Kimberley gereën, en 12 mm in Postmasburg, met 22 mm in Van Zylsrus. In talle dele is skade aan strukture aangerig, onder meer aan dakke en kragpale. Stephan Horn, ’n navorsingassistent wat met versamelvoëls by die Benfontein-natuurreservaat buite Kimberley werk, is ook ’n amateurfotograaf. Hoewel Horn, oorspronklik van Klawer, sedert Januarie by Benfontein werk, is die navorsing rakende die voëls al 20 jaar aan die gang. Horn het dié wolke op Saterdag 9 November by Benfontein afgeneem en vertel dat die wolke besonder donker was, met groen skynsels – wat waarskynlik ’n aanduiding van hael was. Die wolkbank is aan die suidelike kant van Benfontein opgemerk, waar dit op dié middag net sowat 2 mm gereën het, met ongeveer 80 mm by Ritchie.

Foto: Stephan Horn

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article