Voordat Ouma Mietjie Kers doodgaan, sê sy, wil sy in haar Hop-huis bly wat al vanaf 2016 vir haar belowe is.
Vir meer as 40 jaar het Ouma Mietjie (76) en haar man, Oupa Hendrik Kers (69), in hul selfgeboude kleisteenhuis in Philandersbron in die Rietfontein-Mier-omgewing van die Kalahari gewoon.
In dié huis het hulle kinders grootgemaak, en hul kleinkinders en agterkleinkinders ken dit ook as oupa en ouma se huis.
Maar tyd, wind en reën het die huis stelselmatig beskadig – in so ’n mate dat die bejaardes die huis moes ontruim en vir hul eie veiligheid by een van hul dogters woon.
Sy sê daardie dag was sy byna ernstig beseer weens die plate wat losgeruk het. Gelukkig was die kinders nie daardie dag tuis nie. Ná die skrikwekkende storm het sy boonop baie siek geword, en kon sy en haar man nie met veiligheid en vir haar eie gesondheid in die huis aanbly nie.
Philandersbron, net soos Mier- en Rietfontein, is deel van die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington se verantwoordelikheidsgebied.
Ouma Mietjie het lank reeds vir ’n Hop-huis aansoek gedoen, en in 2016 het ’n munisipale amptenaar vir haar gesê sy kwalifiseer, en is op die lys om ’n huis te kry.
Maar die huis is nog nooit gebou nie.
“Ek is moeg,” beklemtoon Ouma Mietjie.
“Ek is nou al jare sonder ’n huis. Maar hulle sê my huis is gebou. Dan vra ek hulle waar is my huis gebou, want hy is nie op my erf nie.”
Volgens haar dogter is daar al drie keer Hop-huise gebou, en haar ma se naam was op die lys.
“Ek was twee jaar oud toe my ma na Philandersbron gekom het. Ek is nou 32 jaar oud, en het vier kinders. Ons het almal in daardie huis grootgeword.
“My ma was al baie keer by die munisipaliteit en sy vra gereeld hulle moet tog haar huis kom bou. Sy wil in ’n nuwe huis sterf die dag wanneer sy sterf. Sy wil uit daardie nuwe huis begrawe word.”
Haar ma is nou moeg gewag en moeg vir beloftes. Wanneer daar wel Hop-huise gebou word, is dit vir jongeres. Sy wat ’n bejaarde is, word uitgelaat.
“Dit is onregverdig. Hulle sal ’n slag hul beloftes moet nakom,” sê sy.
- Patrick Williams, woordvoerder van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, sê die munisipaliteit bou nie huise nie. Volgens hom is dit die prerogatief van Coghsta, wat ook besluit oor die begunstigdes vir gesubsidieerde huise.
“Die munisipaliteit is hoofsaaklik vir die beskikbaarstelling van grond verantwoordelik,” sê hy. Hy het die navraag na die waarnemende Coghsta-verteenwoordiger in die ZF Mgcawu-distrik verwys wat teen druktyd nog nie bereik kon word nie.



