Marie Pretorius (96) van die Minerva Gardens-aftreeoord in Kimberley by 27 van die 28 truie wat sy in 12 maande gebrei het.

Foto: Verskaf

’n Inwoner van die Minerva Gardens-aftreeoord in Kimberley het onlangs 28 truie wat sy oor 12 maande gebrei het, oorhandig om aan liefdadigheid te skenk.

Tog sê die 96-jarige Marie Pretorius dat dié 28 truie nie “baie” is nie. Vroeër jare het sy tot 48 truie in ’n tydperk van 12 maande gebrei. Verlede jaar het sy 33 gebrei.

“Brei is iets wat ek nog my lewe lank doen,” sê sy. Toe sy veel jonger was en dit nog in die mode was, het sy vir haarself tot pakkies gebrei.

Pretorius, wat vir ongeveer sewe jaar in Kimberley woon, vertel dat sy as deel van ’n groep in Pretoria wat truie vir liefdadigheid begin brei het. Die patroon wat sy gebruik en uit haar kop uit ken, is vir groter kinders geskik.

Die wol vir die truie koop sy uit haar eie sak en beskou dit as ’n deel van haar tiende elke maand.

Caritas-gemeenskapsfokus was die ontvanger van die 28 truie. Esté van der Merwe van die nie-winsgewende organisasie sê dat van die truie aan inwoners van die Jannie Roux-kinder-en-jeugsorgsentrum in Barkly-Wes oorhandig gaan word, terwyl truie ook tydens uitreik-aksies aan persone wat dit nodig het, uitgedeel sal word.

Om handwerk soos brei te verrig, help nie net ander nie, maar ook die skepper daarvan.

Uit Fraserburg het NoordkaapBulletin ’n boodskap gekry na aanleiding van die berig in dié publikasie oor die wolbomuitstalling wat vir die Noord-Kaapse dorp beplan word.

“Vanmiddag was ons sommer ’n mooi klompie in die sonkamer by die ouetehuis, heerlik saam gekuier en verhale gedeel oor hoe en waar elkeen begin hekel of brei het . . . die goeie effek daarvan op ’n mens se gemoed. Lekker idees uitgeruil, en selfs hekelpenne. Nog ’n vroutjie het kom vra sy wil leer hekel.”

Die ritme van brei en hekel bevorder die vrystelling van serotonien, en ’n sterk verband bestaan tussen die aksie en ’n gevoel van kalmte en geluk in die brein.

Boonop lei die sosiale aspek van brei tot beter geestelike gesondheid, aldus mentalhealthamerica.net.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article