Die staat en verdediging het Vrydag 13 September oor oopgeslaande dagboeke kopgekrap om hofdatums te vind vir ’n bende-verwante verhoor in die hooggeregshof in Kimberley wat na verwagting meer as tien weke kan duur.
Die verhoor van George Pieters, bekend as Barney en ’n vermeende leier van die Hollanders-bende in Kimberley en omstreke, en sy 16 vermeende meelopers sal in Maart begin. Nog hofdatums sal later bepaal word.
Pieters se mede-aangeklaagtes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Michael Pieters, Clive Pieters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Thabo Sekapano, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza, en Shawn Smith. Van hulle is Pieters se broers, ander sy houvroue en ander sy vermeende makkers.
Staar 56 aanklagte in die gesig
Die 17 beskuldigdes wat die hofbanke vol gesit het, staar 56 aanklagte in die gesig. Dit sluit onder meer moord, verskeie aanklagte van poging tot moord, openbare geweld, aanranding, rig van ’n vuurwapen, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, verskeie aanklagte van bedrog, regsverydeling, saakbeskadiging, ontvoering en verkragting in.
Hulle word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle sedert 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley, Prieska en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak.
Die vroue, met tatoeërmerke wat aandui dat hulle “Barney se eiendom” is, is glo as dwelmmuile gebruik.
Verskeie beweerde skietvoorvalle in openbaar
Pieters se aartsvyand is glo Roger Johnson, vermeende leier van die Madpacks-bende.
In die een voorval voer die staat aan dat Pieters en ander beskuldigdes op 21 Augustus 2020 by die Roodepan-polisiestasie ’n vuurwapen op ’n polisieman gerig en geëis het dat hy twee van Pieters se familielede in aanhouding vrylaat.
Ene Shirley Hofuza en ene Felicia Pieters het glo in opdrag van Pieters en in samewerking met Michael Pieters en Adams vir Johnson op 23 Desember 2020 by die landdroshof-gebou in Kimberley geskiet waar Johnson in ’n hofsaak verskyn het. Johnson het oorleef. Hofuza het haarself oorgegee en dien reeds ’n vonnis uit.
Op 17 Junie 2021 het Pieters en ’n paar van sy makkers in ’n minibus na Demeon Hannie, ’n vennoot van Johnson, se woonstel in Roodepan gery om hom na bewering te vermoor. Die mans het glo skote in Hannie se woonstel en aangrensende woonstelle afgevuur en die vuurwapens aan die vroue oorhandig. Die polisie het die groep voorgekeer, en die vroue in ’n aparte vangwa gesit. Die vroue het die vuurwapens glo in die vangwa versteek, waar die polisie dit later gevind het.
Die Hollanders-bende het glo op 27 Februarie 2022 weer gepoog om op Hannie toe te slaan. Parmesten Mentoor en Blom is in opdrag van Pieters na Hannie se huis, maar hy was nie tuis nie. Hulle het Pule Darius en Austin Beyers aangetref en na bewering op hulle geskiet. Beyers is ernstig gewond en is later aan komplikasies weens sy beserings oorlede, voer die staat aan. Rhan Arends, ’n polisieman, het opgedaag, en daar is glo op hom geskiet. Mentoor is later in Prieska aangekeer, na bewering onwettig in besit van vuurwapens en ammunisie.
Polisse op vrou se lewe uitgeneem
In September 2020 het Pieters gemeen dat een van sy vroue, Dameline Alberts, nie meer lojaal aan hom is nie. Hy en Felicia Pieters en van die ander vroue het glo lewenspolisse op Alberts se lewe uitgeneem. Op 11 Julie 2021 is Alberts na bewering onder die voorwendsel van ’n familiebyeenkoms na Kuruman geneem. Alberts is daardie aand gesteek en versmoor. McAnda is glo aangesê om verantwoordelikheid vir die moord te neem, terwyl die ander glo vals verklarings afgelê het. Nege polisse ter waarde van R27 miljoen is op Alberts se lewe uitgeneem, maar net R1,3 miljoen is uitbetaal.
Pieters en van sy medebeskuldigdes het in Augustus 2021 glo ’n man in Beaconsfield se huis met klippe bestook en ’n vuurwapen op die huisbewoner gerig. By die huis van Lucas Clapton is hy en sy lewensmaat, Sharon Faber, glo aangerand, gevolg deur ’n oor-en-weer skietery. Pieters en Rosen is raakgeskiet en vir hospitaalbehandeling geneem.
Op 22 Januarie 2022 het van die beskuldigdes glo met moordplanne na ene Clayton Jackson, ’n vennoot van Johnson, se woonplek gery. Hulle kom hom nie uit sy huis lok nie, maar het van sy vriende op straat gewaar waarna daar glo op dié voetgangers losgebrand is. Ramon Jacobs het aan sy wonde beswyk.
Daar is glo weer op 12 Februarie 2022 op Johnson in Roodepan toegeslaan en op hom geskiet, maar hy is nie gewond nie. Daniel du Plessis, ’n vriend, is deur sy nek geskiet, maar het oorleef.
Die verhouding tussen Pieters en Felicia Pieters het ook versuur. Hy het haar na bewering op 24 Januarie 2023 in ’n begraafplaas in Wrenchville, Kuruman, verkrag en haar glo met behulp van ander beskuldigdes teen haar wil in ’n huis in Wrenchville aangehou.





