Die Noord-Kaapse sanger Jan Rhaap,

Foto: Verskaf

Jan Rhaap geniet die rustigheid van sy plaas in die Noord-Kaap.

Jan Rhaap, die Noord-Kaapse sanger wat in die omgewing van Niekerkshoop met skape en beeste boer, het onlangs ’n enkelsnit oor iets uitgereik wat baie mans na aan die hart lê: ’n 2.4D-bakkie.

Die sanger (39), wat inderwaarheid Werner Burger heet, het ’n enkelsnit en ’n musiekvideo hieroor die lig laat sien.

Rhaap sê daar is baie dinge wat verkeerd kan loop, en só ’n bakkie is minstens iets waarop enige man kan staatmaak.

Dié nuutste enkelsnit van die sanger en liedjieskrywer het tot stand gekom nadat Rhaap ’n tydperk met sy broer se 2.4D-bakkie moes ry. Hy was glo so beïndruk dat hy besluit het om op sy manier hulde te bring aan wat, volgens hom, een van die beste enjins is wat tot nog toe gemaak is.

“Afrikaners is lief vir hul bakkies en daar is gereeld kompetisie tussen manne oor wie se bakkie nou eintlik die beste is. Hierdie lied gaan presies daaroor; ’n man wat trots is op sy bakkie,” vertel dié boer met ’n BSc-graad in veekunde wat hy aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het.

“Enige boer se bakkie speel ’n baie belangrike rol op die plaas en in sy lewe.”

Rhaap is in Pretoria gebore en het daar skoolgegaan. Sy ouers is gebore en getoë Noord-Kapenaars: sy ma van Niekerkshoop en sy pa van Daniëlskuil.

“My pa het grond tussen Griekwastad en Niekerkshoop gekoop, en in my tweede jaar op Tuks het hulle permanent plaas toe getrek. My broer het ’n paar jaar later plaas toe getrek en ek in 2014,” vertel hy.

Rhaap se nuutste enkelsnit, deur Tertius Human van Coolerbox Studios vervaardig, word as ’n lekkerluister-country-nommer beskryf wat tot enige bakkie-liefhebber se hart sal spreek. Wian van der Walt het die video op ’n plaas buite Schmidtsdrift verfilm.

“In die video sien ons ’n man wat van vroegoggend tot laatmiddag in sy bakkie rondry,” sê Rhaap.

“Langs die pad ontmoet hy verskillende karakters, en elkeen word deur my vertolk.”

Rhaap vermaak gehore reeds langer as ’n dekade. Hy is bekend vir treffers soos “Huisie in die Bos”, wat hy saam met Juan Boucher geskryf het. Die video hiervoor is reeds meer as 4,6 miljoen keer op YouTube gekyk.

“Jan ek kan nie dans nie” is meer as 2,1 miljoen keer gekyk, en “Ramskilpad” meer as 1,5 miljoen keer. Die video van sy vorige vrystelling, “Jagvat”, is reeds meer as 500 000 gekyk.

Rhaap kom uit ’n musikale gesin, en het homself leer kitaar speel toe hy 20 jaar oud was.

Hy het voorheen vertel dat sy verhoognaam van die Afrikaanse uitdrukking “elke Jan rap en sy maat” afkomstig is. Toe hy begin optree het, het dit wat ’n mens gereeld hoor – dat elke tweede mens deesdae wil sing; dat elke Jan rap en sy maat musiek wil maak – hom juis laat besluit dat hy “Jan rap” wil wees, en hy het net die spelling verander.

In 2015 kon hy met ’n Ghoema-benoeming as nuweling van die jaar spog, en in 2017 met een vir die beste alternatiewe album van die jaar.

Rhaap het onlangs saam met ander bekendes op die 2023-Bokboot gekuier.

Wanneer hy nie sing of boer nie, geniet hy dit om tyd saam met sy vrou, Nadia, en twee kinders, Chris-John en Leilah, te bestee of om met vriende en familie te kuier. Hy het ook vroeër vanjaar weer begin krieket speel.

“Om te kan boer is vir my ongelooflik lekker en ’n groot passie. Ek sal nêrens anders my kinders wil grootmaak nie. Dit is ongelooflik lekker om ná ’n besige naweek met optredes te kan terugkeer na die stilte en rustigheid op die plaas.

“My broer en sy gesin, asook ons ouers, bly op die plaas langs ons. Dit is lekker om almal so na aan mekaar te hê.”

  • Rhaap tree op 20 April in Douglas op; op 29 April by Bloemskou in Bloemfontein; en op 6 Mei in Jan Kempdorp.
  • Kyk na Rhaap se nuutste musiekvideo op YouTube, of besoek die Facebook-blad Jan Rhaap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article