Baba-ontvoering: Ma, kleinding herenig; verdagte in hof

By die hereniging van Natasha Japhta met haar babadogtertjie is lede van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) in Kimberley. Van links is speurkonst. Shaun Boer, speursers. Nomonde Mothelesi, lt kol. Harriet McKenzie (eenheidsbevelvoerder) en speursers. Juanita Lakey.

Foto: Verskaf

Die jong vrou wat van die ontvoering van ’n pasgebore baba uit die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley verdink word, het op Maandag 11 September in minder as vyf minute in die landdroshof op ’n aanklag van ontvoering verskyn.

Die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley waar ’n vierdae-oue babadogtertjie verlede Woensdag gesteel is.

Die verwese Andiswa Bayi (21) het ’n oranje Puma-baadjie met ’n kappie onder ’n jannasbaadjie aangehad.

Haar regsverteenwoordiger het aangedui dat sy ’n borgtogaansoek gaan doen, wat die staat gaan teenstaan.

Sy sal ’n skedule 6-aansoek bring, wat beteken sy moet wesenlike uitsonderlike omstandighede bewys wat haar vrylating regverdig.

Lt kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die baba is op 6 September omstreeks 17:00 ontvoer. Die verdagte is op 8 September in Greenpoint in Kimberley in hegtenis geneem.

Kock sê hulle het inligting opgevolg en die baba en haar klere in die vrou se huis gevind.

Die baba is ongedeerd gevind en met haar ma Natasha Japhta (26) herenig.

By die hereniging van Natasha Japhta met haar babadogtertjie is lede van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) in Kimberley. Van links is speurkonst. Shaun Boer, speursers. Nomonde Mothelesi, lt kol. Harriet McKenzie (eenheidsbevelvoerder) en speursers. Juanita Lakey.

Japhta is op op Saterdag 2 September per lugambulans vanaf De Aar na Kimberley vervoer. Sy het vroeër aan NoordkaapBulletin gesê dat haar dogtertjie die Saterdag gebore is, maar weens probleme met haar longe is hulle dringend van De Aar na die hospitaal in Kimberley se neonatale hoësorgeenheid oorgeplaas.

Teen Woendag was daar soveel verbetering by die baba dat daar besluit is om hulle huis toe te stuur.

Volgens Japhta was sy die dag van die voorval omstreeks 16:00 met die laaste administrasie vir die ontslag besig.

Sy het in die saal bevestig dat sy haar baba in die bababedjie neergesit het, maar met haar terugkeer was net die kombers daar.

Die neonatale hoësorgeenheid waaruit die baba gesteel is.

Ongeag kennisgewings soos dié en ’n veiligheidshek by die eenheid, het die veiligheidshek tydens die besoek oopgestaan.

Japhta was onmiddellik bekommerd. ’n Verdagte vrou, wat sy telkens oor ’n tydperk by die saal opgemerk het, het onmiddellik in haar gedagtes opgekom.

Die vrou het glo gereeld in die wagarea voor die saal gesit, met ’n pienk kamerjas aan en ’n doek oor haar gesig. Japhta het die vrou nooit hoor praat nie.

Ná haar dogtertjie se verdwyning is die pienk kamerjas glo onder een van die masjiene aan die voorpunt van die saal gevind.

Die voorval het boonop saamgeval met staking van veiligheidspersoneel by die hospitaal.

’n Hartseer en ontstelde Natasha Japhta met haar ontslagvorms op Donderdag 7 September. “Hoe kan ek huis toe gaan sonder my baba,” het sy gevra.

Dringende oorsigbesoek oor veiligheidskwessies versoek

Intussen sê dr. Isak Fritz, DA-LP, dat ’n dringende ondersoek nodig is na sekuriteitsdienste by die RMSH.

Die party het ’n dringende versoek aan die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer se gesondheidskomitee gerig om ’n oorsigbesoek aan die kraamsaal by die hospitaal te skeduleer én om met die departementele bestuur te vergader oor veiligheidskwessies by gesondheidsgeriewe.

Fritz sê die ontvoering het plaasgevind tydens ’n weeklange staking deur sekuriteitspersoneel by die hospitaal wat glo gegrief is oor uitstaande salarisse.

Dit is onseker of die nie-betaling is weens wanbetalings deur die departement van gesondheid aan Defensor, of deur Defensor aan hul personeel.

Die party bevraagteken al vir jare die departement se gebruik van sekuriteitsfirmas wat teen ’n hoë koste min waarde vir geld bied.

Vroeër vanjaar het die nasionale minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, onthul dat die uitkontraktering van sekuriteitsdienste deur die Noord-Kaapse departement van gesondheid die provinsie R427 miljoen aan onreëlmatige uitgawes kos weens maand-tot-maand-kontrakte.

“Sekuriteitsmislukkings is direk verantwoordelik vir die gebrek aan toegangsbeheer by die RMSH wat daartoe gelei het dat ’n baba gesteel is. Die departement van gesondheid moet verantwoordelik gehou word vir hierdie growwe nalatigheid en mislukking van sekuriteitsdienste,” sê Fritz.

Hy sê voorts die departement staar reeds regseise van meer as R2,1 miljard in die gesig en kan nie verdere eise wat ontstaan weens afwesige sekuriteit by gesondheidsgeriewe, bekostig nie.

  • Bayi sal weer op 19 September in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article