Weerlig kletter oor die vlaktes en wink ontelbare druppels aarde toe waar die verdorde aarde se hande smagtend uitreik na die lewegewende vog.
Warrelwinde jaag mekaar speels en gooi rookskerms agter stofwolke.
Springbokke trek pronke oop al dansende styfbeen in die stofwolke.
Die aarde gulp dorstig na die eerste druppels reën wat reënbogies flits as die weerlig seine stuur.
Diep stemme dreun uit die wolke, waar swaartekrag met lugstrome worstel om die reën af aarde toe te bring.
Wolke maal in ’n woeste stryd, maar druppels tuimel deur die donkerblou om nuwe lewe op die aarde te gee.
Waterstroompies wedloop vir die oewer van die Groot Gariep en plons oor die afgronde na die malende bruin waters.
Rotse steun op hul ankers teen die vloedwaters en breek die rollende waters in golwe wat na die rivier se afvloei soek.
Oewers gee mee, tuimel die malende kolke in en skommel die water in goudbruin skuim.
Vergane bome swig voor die mag van die waters en vertrek op hul laaste tog na die onbekende.
In die Kalahari luister mense skeefkop na die vreemde dreuning.
Die aarde sidder voor die koms van die magtige Gariep.
Wildsbokke skarrel weg van die rivieroewer en die bergskilpad haas hom na die veiligheid van die dolerietkoppe. Kiewiete moedig kuikens aan om vlerk te vat.
Die Gariep se rotsbanke knars vir die koms soos die waters kriewelrig raak. In die verte styg ’n goudbruin miswolk oor die rivier se kanaal.
By die groot draai kabbel die eerste vloedwaters oor die bodemrots en vee die jare se droogwees gemoedelik weg.
Die Augrabies ontwaak met ’n bulderende wal water en opgehoopte takke en bome tuimel oor die rotsbanke.
Die aardkors sidder voor die magtige rivier, wat met woedende waters die laaste sweet van droogte van die Kalahari se aangesig afvee.
Witgatbome drink gulsig aan die sproei wat oor hul dor blare daal en die kameeldorings se basse kleur donker van die mis.
’n Kokerboom hang met mening aan die rotsbank om sy deel van die water te kry.
Tot deur die vergete Richtersveld dreun die Gariep in sy segetog na die verre oseaan.
Vergete is die dorheid; daar is weer lewe in die wêreld om ons.



