Die president van Atletiek Griekwaland-Wes, dr. Lorato Banda, by die wedloop-organiseerders en klubbestuur, Karen en Christo Muller.

Foto: Cherise Barnard Photography

’n Historiese eerste padwedloop is onlangs in Orania aangebied.

Bykans 80 atlete het vir die Kleinreus-halfmarathon en vir die 10 km-wedloop ingeskryf.

Die wegspring van die eerste Orania Kleinreus-halfmarathon.

Hierdie geleentheid op 21 Oktober is deur die Orania Atletiekklub aangebied, en het aan die reëls en riglyne van Atletiek Griekwaland-Wes (AGW) en Atletiek Suid-Afrika (ASA) voldoen.

Joost Strydom, betrokke met mediaskakeling by Orania, vertel die Orania Atletiekklub is ’n nuwe klub, wat net meer as ’n jaar gelede by ASA geregistreer het.

Hy sê hulle is tevrede met die aantal inskrywings wat ontvang is, en dat die wedlooporganiseerders die roete so kon uitwerk dat unieke tonele langs die rivier en kanale deur die deelnemers geniet kon word.

Die president van AGW, dr. Lorato Banda, is uitgenooi om by die prysuitdelingseremonie betrokke te wees.

Arthur Jantjies, die wenner van die 21,1 km-wedloop.

’n AGW-verteenwoordiger sê ’n geleentheid soos dié beklemtoon die belangrikheid van sosiale kohesie deur sport.

“Baie geluk aan die Orania Atletiekklub wat hierdie wedloop in die natuurskoon aangebied het. Dit was die eerste padwedloop in Orania onder die vaandel van AGW en ASA, en het uitstekend verloop,” sê AGW.

Uitslae

  • In die 21,1 km-wedloop was Arthur Jantjies (Kgosi Galeshewe Athletics Club – KGA) eerste oor die wenstreep in 1:13:22. Tweede was Austin van Rooy (Hopetown Running Club – HRC) in 1:17:28 en derde Sydney Stewels (HRC) in 1:22:58.
  • Die eerste vrou oor die halfmarathon-eindstreep was Kerika le Roux (HRC) in 1:39:19. Anel Viljoen (Kimberley Harriers) was tweede in 1:44:25 en Charmain Ras (Kimberley Harriers) derde in 1:55:44.
  • Vroue, wat meestal nie onder die vaandel van ’n klub deelgeneem het nie, het in die 10 km-wedloop oorheers. Isabel Goosen is eerste (58:41), Anina Bredenkamp tweede (1:00:30) en Erica Smith derde (1:00:30).

Besoek Orania Atletiekklub op hul Facebook-blad vir die volledige uitslae en die skakel na al die foto’s van die geleentheid.

Die president van Atletiek Griekwaland-Wes, dr. Lorato Banda, by die wedloop-organiseerders en klubbestuur, Karen en Christo Muller.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article