Die hooggeregshof in Kimberley het Dinsdag 4 Februarie in ’n borgtogappèlaansoek etlike kere gehoor dat die moordverdagte Clive Ferris, wat saam met sy dogter, adv. Celeste Nameka (42) van sameswering tot moord aangekla word, ’n “verswakte 67-jarige man” is wat op borgtog vrygelaat moet word.
Die staat het hierop in hul betoog aangevoer die “sogenaamde verswakte verdagte het glo etlike kere met ’n vuurwapen op mense geskiet, hulle daarmee om hul motors gejaag en self die een slagoffer met gebalde vuiste bygekom.”
Die opspraakwekkende skietvoorval het vroegoggend op 21 Desember 2024 by ’n woonkompleks in Minerva Gardens, Kimberley, plaasgevind waar Nameka saam het haar kêrel gewoon het. Die staat voer aan sy het Ferris gebel ná ’n rusie met haar kêrel, waarna Ferris glo met ’n vuurwapen daar aangekom en mense gedreig en geskiet en ook aangerand het.
Ferris, ’n oud-skoolhoof van die Laerskool Homevale, is dae ná die voorval in die landdroshof aangekla, en Nameka is as medebeskuldigde vroeg in Januarie vanjaar bygevoeg. Hulle staan afsonderlik en/of gesamentlik tereg op moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n stedelike gebied.
Nameka word ook aangekla dat sy familielede van die oorledene op ’n afsonderlike geleentheid gedreig het.
Terwyl Nameka op borgtog van R5 000 vrygelaat is, is Ferris se aansoek in Januarie deur landdros Khumalo afgewys.
‘Dwingende, buitengewone omstandighede’ nodig vir borgtog
Regter Mpho Mamosebo het die appèlaansoek teen die weiering van Ferris se borgtog aangehoor. Omdat dit ’n skedule 6-misdryf onder die Strafproseswet is, moet die beskuldigde dwingende en buitengewone omstandighede bewys wat vrylating op borgtog regverdig.
Adv. Joy Mongala, namens Ferris, se betoog het met ’n gefladder van papiere begin om na sy kliënt se eedsverklaring in sy bundel dokumente te soek. Dit was nadat die regter hom daarop gewys het dat daar nie ’n getekende een in die bundel is nie, selfs nie eens ’n kopie van die een wat voor die landdroshof gedien het nie. Uiteindelik moes Mongala na die getikte hofrekord verwys waarin die eedsverklaring voorgelees is.
Ferris het nie in die borgtogaansoek getuig nie. In sy eedsverklaring voer hy aan dat hy na sy histeriese dogter se huis gegaan het, die emosies het hoog geloop, en ’n voorval het plaasgevind waarin ’n mens dood en ander beseer is, hyself ook.
Sers. Modise Clive Moshotloa, ondersoekbeampte, het in sy getuienis uit getuieverklarings voorgelees om die verloop van die beweerde gebeure te beskryf, en gesê kringtelevisiebeeldmateriaal bewys van die bewerings.
Regter Mamosebo het gevra waar in die verklaring Ferris se bewyse van buitengewone omstandighede is, veral as dit met die ondersoekbeampte se getuienis vergelyk word. Mongale het aangedring daar is genoegsame uitsonderlike omstandighede.
Die kern daarvan is dat die misdryf “skielik nadat Nameka ook in hegtenis geneem en van sameswering tot moord aangekla is” onder ’n skedule 6-misdryf van die Strafproseswet aangehoor is. Mongale voer ook aan dit was onreëlmatig dat ’n vorige landdros wat haarself van die saak verskoon het, die saak op die volgende geleentheid uitgestel het.
Volgens hom het landdros Khumalo in sy uitspraak gesê die staat se saak is swak wat betref die aanklag van sameswering tot moord, en daarom is Nameka se borgtogaansoek toegestaan. Dit beteken Ferris moet ook vrygelaat word, voer Mongale aan. Volgens Mongale kan die staat nie bewys dat die moord vooraf beplan is nie.
‘Faktore weeg baie lig’
Die regter het Mongale meer as een keer herinner dat sy nie ’n hersieningsaansoek lei nie, maar ’n appèlaansoek waarin sy dieselfde getuienis wat voor die landdros was, moet oorweeg om ’n ingeligte beslissing te maak.
Adv. Mary-Anne Engelbrecht het namens die staat uit die hofrekords gelees en aangevoer dat Ferris vanaf sy eerste hofverskyning onder ’n skedule 6-misdryf aangekla is. Die betrokke aanklaer het dit by verdere hofsittings bevestig. Daar was nooit sprake dat dit ’n skedule 5-misdryf is nie, of dat dit met sy dogter se byvoeging verander het nie.
Ferris kan ook nie bepaal of die staat se saak swak is nie, of as ’n bygedagte ook die landdros se uitspraak steun nie.
Ferris, wat van baie ernstige misdade verdink word, het geen bewyse van onskuld gebring en kan nie buitengewone omstandighede bewys nie. Al wat hy sê is dat hy oud en geskei is, met een meerderjarige dogter, eiendom besit en swak behandel is deur die polisie.
Dié faktore weeg baie lig teenoor die erns van die staat se getuienis. Die appèlaansoek moet geweier word, het Engelbrecht versoek.
Uitspraak is voorbehou.





