Die ANC in die Noord-Kaap se herskommeling van hoëvlak raadslede en ampsdraers in die Sol Plaatje- en Dawid Kruiper-munisipaliteit in onderskeidelik Kimberley en Upington om “die mense se vertroue terug te wen ná die party se teleurstellende uitslae met die onlangse verkiesing”, vul groepe en opposisiepartye nie met veel geesdrif nie, hoewel dit ’n “fladdering” veroorsaak het.
Die Kimberley Aksiegroep, wat onlangs die stad tot stilstand wou dwing indien hul griewe oor swak dienslewering en korrupsie nie ernstig opgeneem word nie, het die skuiwe verwelkom, maar gesê hul oorlog duur voort om Kimberley weer te laat skitter.
Dit volg op Deshi Ngxanga, ANC provinsiale sekretaris, se aankondiging op Dinsdag 12 November dat David Kazi in die plek van Michael Sigede as die uitvoerende burgemeester van die Dawid Kruiper-munisipaliteit aangestel word. Sigede sal na die parlement herontplooi word.
By die Sol Plaatje-munisipaliteit word Barbara Martha Bartlett in die plek van Kagisho Sonyoni as uitvoerende burgemeester ontplooi. Sonyoni word as burgemeesterskomiteelid by die Frances Baard-distriksmunisipaliteit herontplooi.
Die ANC het in 2021, toe Sonyoni in sy laat twintigs was, sy jeugdigheid as die jongste burgemeester in die land besing.
Dipuo Peters, adjunkminister van kleinsakeontwikkeling, en eens die minister van energie en vervoer en Noord-Kaapse premier, word die speaker in die Sol Plaatje-munisipaliteit in die plek van Nomazizi Shwababa, wat ’n burgemeesterskomiteelid word.
‘Stap vorentoe, maar baie om te doen’
Boyce Makodi, sameroeper van die Kimberley Aksiegroep, sê die verskuiwing van Sonyoni is ’n oorwinning en stap vorentoe, maar baie moet nog gedoen word.
“Sonyoni moet nou die nodige kennis en ervaring in sy herontplooiing opdoen. Sol Plaatje is aan skerwe, want hy het nie daarin geslaag om die stabiliteit en verbetering te bring nie.
“Ons het reeds voorheen ons 46 onopgeloste griewe in gesprekke met die huidige ampsdraers uiteengesit. Dit sluit in die verwydering van die burgemeester, die voltooiing en bekendmaking van die art. 106-ondersoek in 2018 na onreëlmatighede, die verslag van wat met die R500 miljoen gedoen is wat in 2021 aan die munisipaliteit gegee is, asook ondersoeke na ongebreidelde finansiële wanbestuur, ongemagtigde tariefverhogings, aanhoudende faktuurfoute en verkrygingsonreëlmatighede.
“Die inkomende burgemeester moet elke grief met ons moet bespreek en terselfdertyd ’n verhouding met inwoners bou om vertroue te herstel.
“Ons raai aan dat Bartlett haarself van die huidige burgemeesterskomitee distansieer en eerder ’n vars en bekwame span saamstel.”
Hul versoek om die raad te ontbind om verdere agteruitgang stop te sit, is steeds by die LUR van samewerkende regering.
“ ’n Munisipaliteit wat goed bestuur word kan ons ekonomie ’n hupstoot gee en geleenthede vir belegging en werksgroei skep. Ons wil inwoners teen uitbuiting en onvoldoende dienste beskerm. Die oorlog duur voort om ’n skitterende toekoms vir Kimberley as ’n goedbestuurde hoofstad te bou,” sê hy.
‘Erkenning van munisipale krisis in provinsie’
Wynand Boshoff, VF Plus provinsiale leier, sê in sy reaksie hy wonder hoekom Bentley Vass, die LUR van samewerkende regering, nog in sy pos is.
“Tydens sy termyn het talle munisipaliteite onwettige aanstellings gedoen en het infrastruktuur grootliks in duie gestort. Die VF Plus reken dis tyd vir Vass om ander loopbaanmoontlikhede buite die politiek te verken.”
Boshoff sê “die dramatiese middernagtelike aankondiging is ’n erkenning van ’n munisipale krisis in die provinsie.
“Dit kom nadat Sol Plaatje verlede week van ’n kategorie vyf-munisipaliteit tot kategorie vier afgegradeer is, asook weens ’n omvattende ondersoek van die Valke in die Dawid Kruiper-munisipaliteit.
“Die jong Kagisho Sonyoni se aanwysing as burgemeester was vanuit die staanspoor omstrede, want dit verg ervaring om die burgemeester van so ’n groot en belangrike munisipaliteit te wees.”
Hy sê die ANC se papierdun meerderheid in die Sol Plaatje-munisipaliteit is ná ’n tussenverkiesing omvergewerp toe die PA wyk 1 verower het.
“Dit is net die PA en Good wat die ANC aan bewind kan hou, en dit is daarom noodsaaklik dat die raad noukeurig bestuur word.”
Die faksiegevegte binne die ANC benadeel die raad se werking.
“Dit kan boonop probleme in ’n geheime stemming veroorsaak en die ANC se planne met die herskommeling omvergegooi.”
‘Wil werklike tasbare verandering sien’
Sergio Olivier, die PA se streeksekretaris vir die ZF Mgcawu-distrik, sê hulle glo “dat politieke posisies die belange van die mense moet dien, nie die belange van diegene wat reeds aan bewind is nie.
“Ons is nie teen politieke ontplooiing gekant nie, maar gekant teen die ontplooiing van individue wat geen verbintenis toon om die lewe van ons gemeenskappe te verbeter nie.
“Wat ons hier wil sien is werklike, tasbare verandering in die Dawid Kruiper-munisipaliteit, maar die veranderinge is bloot ’n voortsetting van die status quo.”




