Gemeenskapslede en ingeligtes voer aan sommige ambulanse in die John Taolo Gaetsewe-distrik het nie die wetlik vereiste toerusting soos monitors vir vitale tekens, asook suig-, bloedsuikertoets- en elektrokardiogram-apparaat nie.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Onvolledig toegeruste ambulanse in die John Taole Gaetsewe-distrik het nie die wetlik vereiste toerusting nie.

Paramedici in Kuruman was vir ‘n tydperk gedurende die inperking, weens ‘n gebrek aan kantoorgeriewe ,in hul ambulanse op die parkeerterrein van die Kuruman-hospitaal gekluister.

Gemeenskapslede in die John Taolo Gaetsewe-distrik is hoogs ontevrede oor nooddienstepersoneel wat glo weens die gebrek aan ’n hoofkwartier uit ontoegeruste ambulanse vanaf die huis werk.

Wetgewing vereis dat ambulanse oor sekere basiese mediese toerusting en apparaat beskik.

Die ontevredenheid kom nadat die nooddienste die gebou in Kuruman waarin dit jare lank gesetel was, ’n paar jaar gelede vir opknappingswerk ontruim het. Personeel sou vanaf die nabygeleë Kuruman-hospitaal werk totdat die gebou opgeknap is.

Die gebou is nooit opgeknap nie en is sedertdien deur vandale gestroop.

Tydens die verskuiwing is skedule-medisyne soos morfien agtergelaat. Hoewel die departement van gesondheid aanvanklik ontken het dat die medisyne aan hom behoort, het Riaan Strydom, waarnemende departementshoof, later erken die reeksnommers het bevestig dit is die departement se medisyne.

Die gebou word deur dwelmverslaafdes gebruik.

Volgens ’n ingeligte gemeenskapslid was daar ná die verskuiwing nie bevredigende kantore en badkamer- of kombuisgeriewe vir die nooddienspersoneel by die hospitaal nie.

Paramedici het uit hul ambulanse op die parkeerterrein gewerk.

“Met die inperkingstyd is van die paramedici in hul ambulanse huis toe gestuur en het hulle die hospitaal nie meer as basis gebruik nie. Daar is van paramedici verwag om met hul eie selfoon te werk, wat hulle nou weier om te doen.”
‘n Gemeenskapslid

Die ambulans is somtyds baie ver van die toneel waarheen hulle gestuur word omdat die voertuie by personeellede se huise is.

“Die ambulanse het ook nie meer die regeringsvereiste toerusting, apparaat en monitors nie. Sommige paramedici kan byvoorbeeld nie die vereiste protokol volg deur ’n pasiënt se bloeddruk en hartklop te neem nie. Dit hou enorme gevare vir ons as pasiënte en die paramedici in. Laasgenoemde kan hul registrasie by die Raad op Gesondheidsberoepe (HPCSA) verloor as hulle nie die vereiste protokol volg om pasiënte te behandel nie.

“Ek verneem ook die personeel weier om meer as hul vereiste ure te werk, omdat die departement nie agterstallige oortydgeld tussen 2007 en 2018 betaal het nie, ongeag ’n hofbevel.”

Lebogang Majaha, woordvoerder van die departement van gesondheid, het teen druktyd Dinsdag nog nie op die medianavraag reageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article