‘Aggressiewe’ ingryping nodig vir Kimberley se riool-aanlegte; projek voorgelê

Dr. Mias van der Walt

Foto: Charné Kemp

Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley sê hy het reeds ’n projekvoorstel, om die stad se afvalwaterinfrastruktuur en riool-aanlegte op te knap en nuwes te bou, aan die Tesourie voorgelê. Hulle wag in spanning vir ’n antwoord.

Die oogmerk is om ’n Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) van R2 miljard te bekom.

Thapelo Matlala, stadsbestuurder, sê hulle het herstelwerk aan die wanfunksionele rioolverwerkingsaanleg in Beaconsfield begin doen en hy was by die Homevale-aanleg om die probleme te ondersoek.

Die water wat by die R31- en die N12-roete opgedam het, is weens lekkende rioolpypleidings wat aan die Homevale-rioolaanleg gekoppel is.

Twee hoofspoorlyne wat aan die grense van die oorvol Kamfersdam strek, word ook weens die watermassa bedreig.

“Ons het reeds ’n diensvlakooreenkoms met Transnet onderteken, wat R10 miljoen skenk om van die pypleiding te herstel. Groot mobiele pompe word ook ingebring om water binne die volgende drie maande weg te pomp en die damvlakke af te bring. Die watermassa langs die R31 het in die afgelope sewe maande beduidend gesak danksy die herstelwerk wat ons aan die Gogga-pompstasie gedoen het.”
Thapelo Matlala, stadsbestuurder

Die Beaconsfield-aanleg is weens ’n toevoerpyp wat ineengestort het, buite werking en die water vloei na die aangrensende veld en wildsplase.

“Ons het reeds die nuwe pypleiding in ’n R10 miljoen herstelprojek by die aanleg aangekoop. Die aanleg sal in die volgende drie maande weer in bedryf gestel word.”

Bigen Africa, ’n ingenieursmaatskappy, is deur die munisipaliteit as konsultant aangestel om die projekvoorstel te doen om die afvalwater- en sanitasie-infrastruktuur op te knap. Toekomstige maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling is in ag geneem.

Die verwagting is dat die aanlegte teen 2037 sowat 91 megaliter afvalwater per dag moet verwerk, terwyl dit nou 15 megaliter per dag is. Vorige watermeesterplanne wat in 2018 opgestel is, het toe bereken dat die verwerkingsvermoë nou op 55 megaliter moes wees indien herstelwerk en opknapping toe gedoen sou wees

Dr. Mias van der Walt, besturende direkteur van water by die maatskappy, het ’n maand gelede by die munisipaliteit se waterberaad die voorgestelde opknapping wat aan die grootmaatsanitasie-infrastruktuur in drie fases gedoen moet word, verduidelik.

Dr. Mias van der Walt

Hy sê die stad se afvalwaterinfrastruktuur is in ’n baie swak toestand.

“Die Homevale-aanleg wat in 2012 opgeknap is, se funksionaliteit het teen 2019 beduidend verswak Die ou gedeelte is wanfunksioneel en die nuwe gedeelte is gedeeltelik in werking. Ons sal aggressief moet werk om al die gedeeltes weer funksioneel te maak.

“Die projekvoorstel wat na die Tesourie vir moontlike goedkeuring gestuur is, behels 54 projekte.”

Die stad se verwagte uitbreiding sal na die noorde geskied, waar natuurlike gravitasie gebruik kan word om afvalwater weg te lei na afvalwatersuiweringsaanlegte. Dit sal kostes vir bykomende pypleiding en pompstasies verminder, veral as beurtkrag in ag geneem word.

Die aanlegte wat by die projekvoorstel ingesluit is, is ’n nuwe aanleg aan die noordekant van die stad, opknapping van die Homevale- en Beaconsfield-aanleg, ’n nuwe aanleg in Ritchie, asook verskeie infrastruktuurontwikkelingsprojekte en agterstallige instandhouding.

Tonele soos dié kom algemeen in Kimberley voor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article